Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Massas heliumballonne by interskole pla Paarliete

Verskeie Paarliete het hul ontevredenheid vandeesweek uitgespreek oor die massas ballonne vol helium wat jaarliks by die interskole-sportbyeenkoms vrygelaat word.

Een so ’n inwoner, Peter Thornhill, bestempel die tradisie op Facebook as ’n “onverantwoordelike spektakel” en skryf dat plastiek wat net een keer gebruik word en nie bioafbreekbaar is nie, in die natuur en in riviere beland waar dit lewe vernietig.

Ander Paarliete sê weer die praktyk gebeur net een keer per jaar en rig nie juis veel skade aan nie.

Ander is bekommerd oor die plastieklinte wat om bome gedraai word om skole se kleure te verteenwoordig en dan nie verwyder word of ordentlik geberg word nie en ook skadelik vir die omgewing is.

Antje Shone stel voor die deelnemende skole moet ’n alternatiewe tradisie begin.

Charlotte Nell, ’n meesterstudent in afvalbestuur aan die Universiteit Stellenbosch, stem met die laasgenoemde saam en sê sy onthou die universiteit was tot 2016 ook onbewus van die skade wat die ballonne aanrig. Die eerstejaarstudente van die universiteit het elke jaar ingevolge tradisie duisende ballonne met hul “doelwitte en drome” losgelaat.

Nell sê die langafstandswemmer en omgewingsaktivis Lewis Pugh het ’n rol gespeel om die tradisie te staak. Hy het getwiet: “Ek maan studente [van Stellenbosch-universiteit] om nie 5 000 ballonne vry te laat nie. Dit besoedel en maak dood,” met skokfoto’s van seelewe in dié rubber en tou vasgevang.

Die studente het ná die twiet eerder self die ballonne opgeblaas en een vir een gebars. Hulle het elke stukkie opgetel en laat herwin. Nell meen die tradisie hoef nie gestop te word nie, maar moet net aangepas word.

’n Kaapstadse omgewingsprokureursfirma, Cullinan and Associates, herinner Suid-Afrikaners dat dié praktyk onwettig is. Die firma skryf op sy webwerf “een van die maniere waarop die nasionale Wet op Omgewingsbestuur (Nema), wet 107 van 1998, artikel 24 van die Grondwet ondersteun, is om vir elke persoon ’n versorgingsplig te gee om in redelike omstandighede buitensporige besoedeling of die beskadiging van die omgewing te voorkom”. Die firma redeneer ook dat die vrylating van massas ballonne sekerlik die omgewing, diere en seelewe sal beskadig.

Die firma waarsku dat elkeen wat nie sy Nema-versorgingsplig nakom nie, ’n stewige R10 miljoen beboet kan word of 10 jaar tronkstraf opgelê kan word. Verder kan enigiemand wat rommel strooi, of iemand wat onder hul toesig is toelaat om rommel te strooi, kan ingevolge die Wet op Omgewingsbestuur: Afval (Wet 59 van 2008) tot ’n R5 miljoen-boete of tot vyf jaar tronkstraf, of albei, gevonnis word.


. Many Paarlites are displeased with the annual helium-filled balloon release at interschools sporting events. Cape Town-based environmental law firm Cullinan and Associates reminded the community that mass balloon releases are illegal in terms of the National Environmental Management Act.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.