Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Monument is nog goedkoop

Inwoners van die Paarl het hul ongelukkigheid uitgespreek oor verhoogde toegangsgeld by die ikoniese Taalmonument op Paarlberg.

Ongelukkiges het selfs ’n aanlyn petisie hieroor begin.

Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, het egter gesê toegangsgeld vir volwassenes is van R30 (nie R10 soos wat in die petisie genoem word nie) na R40 verhoog.

Dit volg op geen prysverhoging die afgelope drie jaar nie.

Boonop is die nuwe tarief tot 2022 hierop vasgestel.

Volgens Jonas het die Taalmonument ook kennis geneem van ongelukkigheid by mense wat toegangsgeld moet betaal maar slegs die koffiewinkel by die monument wil besoek.

“Ons het voorheen vir ’n wyle ’n R10-toegangsfooi as vergunning toegelaat vir mense wat vooraf by die koffiewinkel bespreek het,” verduidelik Jonas. “Ongelukkig het dit verwarring meegebring en het sommiges hiervan misbruik gemaak deur dan ook die monument te besoek. Weens die uitleg van hierdie ikoon is dit baie moeilik om mense dop te hou en dit is ook nie wat ons wil doen nie.”

Die Taalmonument ontvang slegs ’n beperkte toelae van die regering en moet die res van die begroting self insamel.

“Al ons toegangsgeld word aangewend vir die instandhouding van ’n besonderse Paarlse baken in ’n natuurgebied van 101 ha, insluitend die koffiewinkel se infrastruktuur, tuine, buitelugspeletjies, speelparkie en parkeerarea,” sê Jonas.

Die monument het die afgelope finansiële jaar byna R1 miljoen vir verbeteringe aan die koffiewinkel bestee terwyl die maandelikse munisipale rekening vir die monument, insluitend die koffiewinkel, sowat R90 000 beloop.

Jonas sê besoekers, veral Drakenstein-inwoners, kan www.taalmuseum.co.za/taalmonument-besoekersinligting besoek vir inligting oor meer bekostigbare pakkette en ander afslagpryse.

’n Jaarpakket kos byvoorbeeld R220 per gesin van vier en R120 per individu, wat mense toelaat om die monument en koffiewinkel elke dag gratis te besoek. “As groepe vooraf versoek, gee ons ook afslag indien moontlik,” sê Jonas.

“Ons hoop mense verstaan ons finansiële posisie en ons bedank almal vir hul volgehoue ondersteuning. Paarliete lê ons na aan die hart en ons gee gereeld terug aan die gemeenskap deur middel van spesiale projekte en dae.

“Dit sluit gratis busvervoer ter waarde van R60 000 per jaar in.”

Volgens Jonas vergelyk die monument se toegangspryse baie goed met onder meer die nasionale natuurreservate en kunsmuseums wat ook restaurante het en waarvoor besoekers ook normale toegangsgeld moet opdok as hulle net die eetplekke wil besoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.