Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Munisipaliteit laat gesin sonder motor

’n Gesin van die Paarl sit nou met die hande in die hare en sonder hul noodsaaklik voertuig nadat die motor ’n paar maande gelede onherstelbaar in ’n slaggat beskadig is.

Die voorval was op 29 September. Kurt Mackier (19) van Klein Parys het in sy Ford Ka gery toe dit in ’n reusagtige slaggat op die hoek van Desmore- en Goethamstraat beland het.

Inwoners van die gebied het op die toneel vertel dat wonings hiér gedurig oorstroom word weens gebarste ondergrondse waterpype en dat dit die tweede keer is dat ’n motor op dieselfde plek in ’n slaggat beland.

Hierna het die Mackier-gesin ’n eis by die munisipaliteit ingedien om vir die skade van die motor te betaal. Die munisipaliteit het egter slegs ’n geringe bedrag van die waarde van die motor uitbetaal en weier glo om die stoorkoste van die motor te dek.

Kurt se ma, Hildegard, sê die versekerde waarde van die motor is R24 000 en die munisipaliteit gaan blykbaar net R17 000 betaal. Boonop is daar ’n uitstaande rekening van R11 000 vir die stoorplek waarheen die onpad­waardige voertuig ná die voorval gesleep is, en die munisipaliteit dek nie ’n sent daarvan nie.

Mackier sê haar twee seuns is afhanklik van die motor wanneer hulle aanstaande jaar hul studies aan die Universiteit van die Noordwes voortsit, maar nou weet hulle nie wat hulle gaan doen nie.

“Hierdie is blote nalatigheid van die munisipaliteit – die gebied waar die slaggat was, is oënskynlik ’n probleem­gebied wat nooit ordentlik reggemaak is nie. Hulle behoort ons geheel en al vir die skade te vergoed. Wat sou gebeur het as my seun in die voorval beseer is?”

Die Drakenstein-munisipaliteit hou egter vol dat hy duidelike riglyne het met betrekking tot sulke voorvalle en dat hierdie stappe gevolg is in die skikkingsooreenkoms ten opsigte van dié voorval.

“Net soos ’n normale huis of voertuig­eienaar versekering uitneem om skade te dek, is die munisipaliteit ook gebonde aan ’n versekeraar en moet die spesifieke reëls vir die spesifieke geval gevolg word. In die geval van die spesifieke inwoner is alle dokumentasie ingedien en die regte proses is gevolg. Daar was kommunikasie om die bedrag te bevestig en ook die rede waarom sekere bedrae uitgesluit is. Indien die Mackiers nie tevrede is met die uitkoms nie, mag hulle appelleer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.