Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Musieksentrum vier vyf dekades

Vanjaar vier die bekende Paarlse Frank Pietersen-musieksentrum sy 50ste bestaansjaar.

Wyle Frank Pietersen, ’n inspekteur van musiek in die voormalige departement van kleurlingsake, het die Paarl-skolemusieksentrum in 1970 met die hulp van ’n groep onbaatsugtige onderwysers gestig, waarna dié sentrum in 1991 die Frank Pietersen-musieksentrum gedoop is.

Frank se visie was om ’n jeugorkes vir die hele Paarl-gemeenskap te ontwikkel.

Verskeie onderwysers het toe vrywillig gehelp om 35 leerders in blokfluit en Orff-instrumente asook koorsang by die Athlone-onderwyskollege in Sanddriftstraat te onderrig.

Maar met die Apartheid-verskuiwings moes die musieksentrum van die onderwyskollege na Paarl-Oos verhuis. Die sentrum is toe by William Lloyd Primêr gehuisves waarna dit later na Ebenezer Primêr verskuif het.

Die musieksentrum het vir 10 jaar floreer, maar in 1988 is die deure gesluit weens ’n gebrek aan ondersteuning, finansiële beperkings en ’n tekort aan huisvesting.

Vaughan Pietersen, Frank se seun, het toe besluit om die musiekskool ná sy pa se dood met agt leerders in sy sitkamer en motorhuis in Murraystraat, Charleston Hill, te laat herleef.

Daarna het die leerdertal vinnig tot 77 uitgebrei en met die sluiting van die Athlone-onderwyskollege in 1993 het die musieksentrum die gebou in 1994 betrek.

Die musieksentrum het die feestelikhede van hul halfeeu-feesjaar begin met ’n dankseggingsdiens in die Bethel- Congregational Church in die Paarl-Oos. Nie net was dit ’n tyd van danksegging nie, maar ook ’n tyd van nadenke oor wat die vyf dekades sedert die nederige begin gebeur het en wat die sentrum hierdie unieke instelling gemaak het wat dit vandag is.

’n Kersseremonie is gehou waar die skoolhoof, Vaughan Pietersen, ’n kers ter nagedagtenis aan die stigter, Piet Pietersen, en baie ander onderwysers en leerders wat nie meer leef nie, aangesteek het. Nog vyf kerse is aangesteek ná ’n kort besinning oor elke dekade deur vyf van die stigterslede.

Die volgende datum op die musieksentrum se kalender is 14 Maart wanneer ’n musiekfees gehou sal word. Hierdie geleentheid begin om 17:00 en duur tot laataand. Verskillende orkeste uit die Paarl en Kaapstad sal die gehoor vermaak.

Nog datums waarin musiekliefhebbers sal belangstel, is ’n strikdas-en-aanddrag-byeenkoms en feeskonsert op 28 en 29 Augustus, die prestige-konsert vir soliste met ’n orkes op 17 Oktober en die immer gewilde Kerskonsert op 27 November.

Die musieksentrum wil leerders, onderwysers en gesinne wat enige tyd tussen 1970 en 2020 deel van die musieksentrumfamilie was, nooi om kontak te maak en hul e-posadres te stuur sodat nuusbriewe en nuus oor die 50ste bestaansjaarfeeste aan hulle gestuur kan word. Enigiemand wat nog ’n instrument kan bespeel, is welkom om aan een van die orkeste vir hierdie konserte deel te neem.

Dit is belangrik vir die huidige leerders om die geskiedenis te leer ken deur vorige leerders te ontmoet wat nog hul instrument bespeel. Stuur e-pos na reception@fpmusiccentre.org.za of kontak die kantoor by 021 872 2123/4.

Die kantoorure is 10:00-18:00.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.