Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
My en Madiba se ‘paaie’ kruis weer

Hierdie week, Dinsdag 11 Februarie, was dit 30 jaar gelede dat Nelson Mandela ná 27 jaar gevangenskap uit die tronk vrygelaat is. Mandela het 27 jaar gevange­nis­straf uitgedien, verdeel tussen Robbeneiland, Polls­moor-gevangenis en die Victor Verster-gevangenis (Drakenstein korrektiewe dienste) vir hoogverraad omdat hy teen Apartheid gestry ??het.

Paarl Post-redakteur, Lise Beyers, vertel van haar ervarings, toe en nou, in die voetspore van Mandela.

In die laat jare tagtig werk ek as persfotograaf vir ’n Johannesburgse dagblad. Dit was ’n tyd van ware onrus. Die nasie was nou eers onrustig ná dekades van onderdrukking en konserwatisme. Ek was baiekeer weens my werksverplig­tinge in die middel van soldate en polisie wat rubberkoeëls en traanrook geskiet het en aan die ander kant woedende burgers wat klippe en petrolbomme geslinger het.

Die destydse president, FW de Klerk, het op 2 Februarie 1990 die ANC en ander organisasies ontban. Ná sy toespraak het ons geweet dat die vrylating van Mandela op hande is – dit was net ’n kwessie van wan­neer.

Dit was ’n dag waarvoor die hele wêreld gewag het.

’n Week hierna, Saterdag 10 Februarie, het ek by die huis aangekom ná ’n lekker middagete saam met vriende in Johannesburg en my landlyn lui (ja, dit was die dae voor selfone). Dit was my nuus­redak­teur wat my meedeel dat ek bespreek is op ’n vlug van Jan Smuts (O.R. Tambo) na Kaapstad.

“Nelson Mandela word môre vrygelaat,” is al wat hy sê.

As ek terugkyk na hierdie gebeurtenis, voel dit soos nou die dag.

Ek het binne vyf minute ’n oornagsak gepak, my kamerasak gegryp en is lughawe toe.

Die media is in kennis gestel dat Mandela Sondag om 10:00 uit die gevangenis in Paarl sou stap, dus is ek al baie vroeg op pad daarheen.

Maar waar die afrit nou na Val de Vie is, is die pad afgesper en ons moes verder na Victor Verster in die warm son stap.

En daar staan ek en ’n klomp ander fotograwe en joernaliste van oor die wêreld en wag –sonder enige skaduwee of water. Tienuur het gekom en gegaan en ’n goeie paar uur het verbygegaan.

Die hitte was erg, maar daar het ons vasgenael gestaan, te bang om ’n tree te gee sodat ons nie die groot oomblik mis nie.

Omstreeks 15:00 het die hekke uiteindelik oopgegaan en die pret en speletjies het begin. Mandela het hand aan hand met sy destydse vrou, Winnie, verskyn, albei seëvierend met hul vuiste in die lug. Die skare het gejuig en ons fotograwe het vorentoe beweeg om beter foto’s te neem terwyl veilig­heids­wagte ons teruggestoot het.

Binne sekondes is Mandela in ’n motor geprop wat toe weggejaag het.

Ek moes ver terugloop na my voertuig, wat etlike kilometers weg geparkeer is, en na die Kaapstadse lughawe jaag om my films op ’n vliegtuig te kry Johannesburg toe. Daarna moes ek na die Grand Parade in Kaapstad gaan waar Mandela sy eerste openbare verskyning gemaak het.

Die volgende dag was dit sy eerste perskonferensie in die huis van aartsbiskop Desmond Tutu in Bishopscourt.

Ná my terugkeer in Johan­nesburg was ek die daaropvol­gende weke meestal elke oggend vroeg in Soweto by Mandela se ou huis in Vilakazistraat.

Draai die horlosie nou vorentoe – dis nou 30 jaar later. Mandela is nie meer met ons nie, maar hy het ’n nalatenskap wat die verbeelding van die hele wêreld aangegryp het. Niemand kan dit ontken nie.

In die Paarl

En ek. Ek is jare ná sy vrylating terug in die Paarl waar ek as joernalis werk – baie bly om weer in my tuisdorp te wees.

’n Jaar gelede begin ek draf. My mikpunt was eers 5 km, wat ek nie eens gedink het ek sou bereik nie. Maar met volhar­ding het ek deurgedruk en die 5 km het ’n bietjie verder ge­raak. En in November verlede jaar het ek my eerste half­marathon (21,1 km) gehardloop.

Net soos die duiwel dit wou hê, het ek net voor Kersfees ’n redelik ernstige enkelbesering opgedoen. Maar dit het my nie gestuit nie, want ek weet vroeg in 2020 was die 30ste herdenking van die vrylating van Nelson Mandela wat my deur die jare so bygebly het en ek was vasbeslote om die 27 Freedom Run, wat jaarliks gehou word ??van die plek waar hy na vryheid gestap het, te hardloop.

Saterdagoggend 8 Februarie spring ek saam met ongeveer 1 500 atlete weg vir ’n baie moeilike roete van 27 km – een kilometer vir elke jaar wat Mandela in die gevangenis deurgebring het.

Dit was inderdaad ’n baie moeilike roete: Dit was warm en ver en my beseerde enkel keil my op, maar ek het volhard.

Elke kilometer is daar ’n bord langs die pad wat die kilometers aftel, maar in plaas van kilometer, dui dit die jaar aan om jou te herinner dat dit die jare was wat Mandela agter tralies deurgebring het.

Die laaste 5 km het my bene soos sement gevoel. Ek het geen idee hoe ek dit reggekry het om hulle aan die gang te hou nie.

Maar in my gedagtes het ek vir myself gesê: “Jy gaan net hierdie pyn vir ’n paar uur verduur, nie 27 jaar nie.”

Hierdie gedagte het my aan die gang gehou en wonderbaarlik, toe ek die laaste kilometer bereik het, was ek nog steeds in staat om my tempo te versnel en die eindstreep te haal.

Dit was vir my ’n ware eer om hierdie wedloop te hardloop. Ja, dit was ter ere van Nelson Mandela en ek kon geensins naby die taai 27 jaar kom wat hy in gevangenskap was nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.