Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘My nag van hel’

“Ek het nie woorde nie.”

Só sê Louise Breugam (81) terwyl sy oor die murasie van haar historiese plaashuis, wat drie weke gelede deur ’n brand in puin gelê is, staar.

Louise het Donderdag 16 Januarie vroegoggend saam met gaste in haar plaas- en gastehuis op Eben-Haëzer-plaas in Klein Drakenstein wakker geskrik met die oorweldigende reuk van rook wat oral gehang het.

“Ek het eers gedink dat dit dalk ’n brand aan die hange van die Dutoitskloofberge hier naby is,” sê Louise. “Een van my gaste het egter gesê hulle het rook in die boonste gedeelte van die huis gesien.”

Toe sien hulle die vlamme aan die ander kant van die herehuis in een van die gastehuisies langsaan.

“Die hele gastehuisie was verswelg deur vlamme en die rook in die herehuis het toe oral begin borrel. Als het so vinnig gebeur. Ek het onmiddellik ons veiligheidsmaatskappy gebel, wat die brandweer ontbied het.”

Louise sê die dak van haar huis het eers op ’n klein plekkie begin brand en sy het so gou as moontlik die daksproeiers gaan aanskakel, maar dit was tevergeefs – niks kon toe meer die vlamme op die rietdak keer nie.

“Gelukkig het my gaste almal na veiligheid gevlug. Ek was heeltemal verward oor wat om te doen. Dit het gevoel asof my hele lewe voor my in vlamme opgaan. Hierdie was die huis waar ek en my oorlede man ons kinders grootgemaak het en dit was gevul met ’n leeftyd van pragtige herinneringe.”

Louise het teruggegaan om te gryp wat sy kon. Sy het wel haar selfoon en haar motorsleutels in die hand gehad en kon twee silwer kandelare gryp.

“Ek het nog probeer teruggaan om foto’s van my man en kinders te probeer red, maar iemand het my gekeer om weer in te gaan, want als was toe reeds aan die brand.”

Teen dié tyd was die nooddienste asook die Drakenstein-plaaswag op die toneel verwoed besig om die vlamme te probeer blus.

Dit was egter nutteloos.

Louise vertel dat sy in ’n ambulans gelaai is om haar na veiligheid te neem.

“Ons het van die plaas af gery en toe ons op die Sonstraalpad kom, het ons stilgehou. Daar was niks fout met my nie en ek wou uit die ambulans klim, maar toe ek opstaan en weer na die verwoestende toneel kyk van my huis wat deur die vlamme verswelg is, slaan my asem weg en my bene gee onder my mee.”

Louise het ’n hartaanval gehad en die ambulans het haar onmiddellik na die Mediclinic Paarl geneem waar sy gestabiliseer en na die Panorama-kliniek oorgeplaas is. Sy is vroeër in Februarie ontslaan.

“Toe ek uit die hospitaal kom, het ek net ’n nagrok, kamerjas en pantoffels gehad. Al my besittings is vernietig.”

Louise en haar oorlede man, Cors, het in 1976 na Suid-Afrika gekom en die spoghuis, wat in 1837 gebou is, gerestoureer en in ’n gastehuis omgeskep. Sy het ook ’n troulokaal met sy eie kapel op die plaas opgerig, wat vandag baie gewild is.

Die nuus van die brand het egter veroorsaak dat van die troues gekanselleer is, maar Louise sê die troulokaal is geensins deur die brand geraak nie en dit is heeltemal funksioneel.

Maar wat lê in die toekoms vir Louise en Eben-Haëzer voor?

“Tans bly ek in ’n huis van my seun in die Paarl. Ek verlang vreeslik terug plaas toe, maar daar is nou niks van my meer daar oor nie. Die versekering is steeds besig met die ondersoek na die brand, en of die herehuis eendag herbou gaan word, weet niemand nie.”

Intussen word Louise bygestaan deur Nada Whelpton van Africa Health, ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag, wat fokus op sake wat verband hou met die geestelike, emosionele en sosiale welstand van mense op grond van huidige kennis, navorsing en menslike hulpbronne.

Whelpton beoog om Vrydag 21 Februarie ’n kunsuitstalling by Eben-Haëzer te hou met kunswerke van plaaslike kunstenaars om geld vir Louise in te samel. . Belangstellendes kan Whelpton by 082 681 6611 kontak, of www.africahealth.org.za vir nog inligting besoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.