Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Na ongeluk wil Danfred dans en mense bly maak

Die belowende baldanser Danfred Francke (27) van Smartie Town in Paarl-Oos se drome is sowat sewe jaar gelede kortgeknip nadat hy sy been in ’n tref-en-trap-ongeluk verloor het.

Dit het hom jare geneem om vrede met sy onverwagse omstandighede te maak, maar vandag vul dit sy hart om sy danskennis met ander jongmense in sy gemeenskap te deel.

Danfred en ’n groep vriende het in Februarie 2013, nadat hy en vier an­der by ’n nagklub gekuier het, besluit om huis toe te stap. Onderweg het twee motors in Jan van Riebeeck-ry­laan gejaag waar Danfred en sy vrien­de glo langs die sypaadjie gestap het. Danfred kon nie betyds uit die pad spring nie en is deur een van die motors getref. Hy was destyds 20 jaar oud. Paarl Post het kort ná die voorval berig oor die nagmerrie wat Danfred se dansdrome verpletter het.

“Dit is nou sewe jaar nadat die ongeluk gebeur het. Dit het my lewe baie verander omdat dit ’n groot aanpassing vir my was en omdat ek moes leer hoe om met die nuwe leefstyl, wat ek nie geken het nie, te leef,” vertel Francke.

Alhoewel dit nie maklik was nie, het hy moed bymekaargeskraap en die lewe weer aangepak. Vandag is Danfred by die Cielo Dance Movement-akademie betrokke waar hy sy passie vir dans met die jeug deel.

“Ek het gaan studeer maar kon nie klaarmaak nie. Ek het toe my ou dansmaat gekontak en sy het my aangemoedig om terug te keer na die danswêreld,” vertel Danfred.

Die dansskool word besit deur sy voormalige dansmaat, Carren Johannisen.

“Sy het dit verlede jaar gestig, maar het nog nie plek gehad waar sy klas kon aanbied nie. Sy het by skole ingestaan en dansklasse vir ’n paar maande aangebied. Ons maak gebruik van klaskamers om die kinders ná skool af te rig,” verduidelik die oud­danser.

Die twee het met net laerskool­leer­ders begin, maar nou fokus hulle op mense van alle ouderdomme wat in dans belangstel.

Hoe hy dit tot dusver gemaak het, sê Danfred, is net te danke aan die ondersteuning van sy ouers, broers en susters, familie, vriende en selfs sy kerkgemeenskap. Dit maak nie vir Danfred meer saak wat gebeur het nie, en hy droom steeds daarvan om eendag weer op ’n verhoog te kan dans. Oor waar hy hom oor vyf jaar wil bevind, voeg hy by: “Ek sien my as ’n performer wat mense se harte bly maak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.