Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nag van ‘hel’ in ambulans

“Ek was eers geskok dat die mense wat nog heeltyd na ons kyk nou weier om ons terug te neem. Waarheen moes ek gaan? Ek het so magteloos gevoel en kon niemand bel om my te kom haal nie omdat ek positief getoets is. Dit was alles in ’n vreemde provinsie en die enigste plek (Emperor’s Palace) wat ek ken moes ek nou verlaat.”

Dít was die woorde van die 29-jarige Fredrika Matthee van Worcester, wat tans in Johannesburg in self-afsondering is nadat sy op 14 Junie positief vir die koronavirus getoets is.

Matthee werk in die buiteland op passasierskepe en het op 9 Junie teruggekeer na haar geboorteland nadat hulle as ’n groep uit Barbados gerepatrieer is. Toe sy en ander positief vir die Covid-19-virus getoets is, moes hulle Emperor’s Palace in Kemptonpark Vrydagaand (19 Junie) verlaat en na ’n ander afsonderingsentrum gaan.

“Ons moes byna vier uur in ’n ambulans rondry en het geen heenkome gehad nie. Ek was so bang omdat enigiets kon gebeur – die ambulans kon gekaap word en ek het nie die ander mense in die ambulans geken nie,” vertel Matthee.

Sy sê sy was “verstom, bang en emosioneel” in die bykans vier ure wat sy in Johannesburg agter in ’n ambulans rondgeswerf het.

“Dit was bitter koud in die ambulans en die wete dat ek ’n volwassene is, maar geen sê oor my eie lewe het of waarheen ek wil gaan nie, was vir my baie erg om te verwerk.

“My lot was vir daardie oomblikke in ander mense se hande en ’n hulpelose gevoel het my oorkom,” verduidelik Matthee.

Sy sê Emperor’s Palace is ’n sentrum vir kwarantyn en nie afsondering nie. “So, as jy gesond is, kan jy 14 dae daar bly, maar as jou toetsuitslag in die 14 dae positief is, moet jy na ’n afsonderingsentrum gaan.”

Matthee het aan Standard gesê sy verstaan sy moes na ’n afsonderingsentrum verskuif, maar toe die private instelling nie plek gehad het nie, kon sy nie verstaan hoekom sy nie terug Emperor’s Palace toe kon gaan nie. “Emperors Palace was my ‘tuiste’ vandat ek terug is in die land.”

Sy moes met twee groot tasse en ’n rugsak in die yskoue ambulans sit en ure lank van plek tot plek swerf totdat Emperor’s Palace se bestuur eers ná eenuur Saterdagoggend ingestem het hulle kon daar kom slaap.

“Ons het gemengde gevoelens hieroor gehad omdat hulle ons eers nie daar wou hê nie en toe aanvaar hulle ons weer ná al die gesmeek.

“Ek het onwelkom gevoel in wat eens ’n veilige, warm hawe was,” vertel Matthee.

Sy is tans in ’n kwarantynsentrum in Olifantsfontein naby Pretoria en het aan Standard gesê dit gaan goed met haar omdat sy ’n positiewe mens is.

“Ek gesels met my vriende en familie op my foon, rus voor die televisie en slaap en eet omdat hier nie eintlik veel is om te doen nie.

“Dit gee my hoop dat ek binnekort die siekte gaan oorkom en weer by my familie sal kan uitkom.”

Matthee meen egter dit moet vir party mense baie erg wees om die siekte alleen deur te maak as hulle nie soos sy ’n sterk ondersteuningsnetwerk het nie.

“Sodra ek gesond is, bespreek ek dadelik ’n vliegtuigsitplek Kaap toe om in Worcester uit te kom waar my hart en my mense is. Ek sien baie uit na my eerste braai saam met my ouers en gesin.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.