Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Navorsing oor gis vat haar ver

Die Paarliet dr. Debra Rossouw geniet dit om ná werk te gaan bergfiets ry of ’n bergpad iewers te voet aan te durf.

Sy doen dit met mening, want dit gee haar kans om kop skoon te maak ná ’n dag in haar laboratorium by die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir wynbiotegnologie.

Sy werk as biotegnoloog en doen navorsing oor verskillende giste, bakterieë en alge.

Debra het April begin met die kans om langs die Naivash-meer in Kenia te hardloop. Sy was in dié Afrikaland op uitnodiging van die African Academy of Sciences (AAS) en die Royal Society, omdat sy aangewys is as een van die eerste 30 ontvangers van ’n Future Leaders African Independent Research (FLAIR)-navorsingsbeurs.

“Dit was ’n besonderse ervaring,” vertel Debra nadat sy die ander FLAIR-ontvangers uit lande soos Zimbabwe, Kamaroen, Kenia, Rwanda en Nigerië ontmoet het.

FLAIR word deur die AAS en die Royal Society gedryf en deur die Verenigde Koninkryk se Global Challenges Navorsingsfonds (GCRF) ondersteun.

Vir Debra beteken dit dat haar navorsing oor die volgende twee jaar finansieel met £300 000 (meer as R5,5 miljoen) ondersteun word.

Sy sal ook waardevolle kontakte kan opbou en by inisiatiewe rakende mentorskap en vaardigheids­ontwikkeling wat die AAS aanbied, kan inskakel.

Die US Instituut vir wynbiotegnologie waar sy werk, is die enigste van sy soort in Afrika. Lede van hierdie multidissiplinêre instituut ondersoek enigiets van plante (soos wingerd en tabak) tot giste, bakterieë tot mikro-alge.

Debra bestudeer die interaksie tussen verskillende soorte giste en hul wisselwerking met spesifieke bakterieë en alge wat in nywerheidsprosesse gebruik sou kon word.

Sulke mikro-organismes is tipies tussen een en ses duisendstes van ’n millimeter (of 1-6 mikrometer) in deursnee.

Debra se navorsing gebeur alles op mikroskaal, want sy bekyk een uiters fyn maar belangrike aspek van hierdie mikroörganismes – die selwand.

Sy bestudeer die gene en proteïene wat hierdie strukture beheer en beïnvloed.

As deel van haar dagtaak gebruik sy ’n verskeidenheid tegnieke – van tradisionele molekulêre biologiese metodes en mikroskopie tot rekenaar­simulasies en die heel nuutste sekwen­sie­tegnologie wat genetiese werk moontlik maak.

Debra was die eerste wetenskaplike wat die beginsels agter ’n onderwerp genaamd ko-aggregasie of ko-flokkulering fyn uitgewerk het.

Dit vind plaas wanneer die selwande van verskillende giste aan mekaar kleef of “gom”. Dit gebeur volgens spesifieke patrone, afhangend van die spesie gis wat betrokke is. Sy het agtergekom dat hierdie wisselwerking in sommige gevalle die betrokke spesies help oorleef en ander kere weer nie.

“ ’n Mens kan hierdie interaksies gebruik vir bioherstel of om ‘ekosisteme’ op te bou. ’n Mens sou dit kon gebruik om beter fermentasie­metodes te ontwikkel, of ander maniere te vind om afvalwater biologies eerder as chemies skoon te maak,” verduidelik sy die waarde van haar werk.

Debra hoop dat haar bevindinge eendag gebruik sal kan word om beter kommersiële fermentasiemetodes te ontwikkel en om die wynbedryf se groen voetspoor te vergroot.

“Die navorsing gaan oor meer as net praktiese toepassing. Dit help ons verstaan hoe die fisiese wisselwerking tussen verskillende spesies moontlik gelei het tot die evolusie van natuurlike ekostelsels waar ’n klomp verskillende soorte mikroörganismes voorkom,” sê sy.

Debra het in Pietermaritzburg grootgeword en het die afgelope dekade al verskeie navorsingspryse vir haar werk ontvang.

Sy het in 2009 ’n PhD in wynbiotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy het met ’n BSc in Biotegnologie in 2003 begin en al haar grade tot op MSc-vlak cum laudeontvang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.