Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nog ’n seun voor Kersfees geskiet

Bendegeweld in Paarl-Oos het weer eens die lewe van ’n kind geëis.

’n Veertienjarige seun, Enrico Nuwegeld, ’n boorling van Kaapstad wat vanjaar in Monicastraat, Smartie Town, kom woon het, is Maandag 17 Desember kort ná 11:20 in ’n wilde skietery in die kop getref.

Inwoners van Smartie Town sê dit was gewis ’n bendeverwante voorval. Hulle sê ook dat bendelede deesdae al jonger is.

Volgens ooggetuies wat op die toneel was, het die skote behoorlik in die skietery in Smartie Town geklap. Volgens hulle het ’n ander jongman in die strate rondgehardloop en wild skote afgevuur. Hy het toe op Enrico afgestorm en op hom begin skiet.

Kapt. Diana Linee, ’n polisiewoordvoerder, het gesê met die aankoms van die polisie en nooddienste op die toneel het Enrico in ’n plas bloed gelê.

’n Drie-en-twintigjarige man is vir die moord in hegtenis geneem, maar die polisie kon nie beslag lê op die vuurwapen nie.

Die verdagte verskyn vandag (20 Desember) in Paarl-landdroshof op aanklag van moord.

Enrico het vroeër vanjaar die skool verlaat. . Die jongste moord volg kort ná die koelbloedige moord op Danté Harris, ook 14 jaar oud, wat Sondag 18 November in Groenheuwel dood is nadat hy een keer in die kop geskiet is.

Dante, ’n leerder van Charleston Hill Sekondêr, het vroeg die oggend saam met ’n vriend van ’n partytjie af in Berliozstraat gestap. ’n Groep mans het hulle aangeval en verskeie skote is geskiet. Dante is in die kop getref.

Volgens ’n ooggetuie wat op die toneel was, het die seuns rustig van die partytjie af huis toe gestap toe die mans hulle aangeval het.

Geen verdagtes is nog in verband met Dante se moord aangekeer nie.

Linee sê gedurende die feestyd sal die Paarl-Oos-polisie in samewerking met die anti-bende-eenheid verskillende operasies in die omgewing van Paarl-Oos uitvoer.

“Sover is altesaam 77 verdagtes in hegtenis geneem, waarvan 43 reeds in die Paarl-landdroshof verskyn het,” sê Linee.

Enigiemand wat inligting het oor die moorde, kan die polisiekantoor by 021 877 5900 skakel. Alle inligting word vertroulik hanteer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.