Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nog ’n verhaalboek uit Lizma se pen

WELLINGTON – ’n Ouma van Wellington, Lizma van den Berg, het nou reeds haar vierde boek geskryf en self gepubliseer.

Die stories daarin is almal deur haar kleinkinders, die tweeling Carel en Liza, geïnspireer.

Haar nuutste boek is Filipina die vet feetjie. Dit is ook in Engels beskikbaar. Die kleurryke illustrasies in die geel 64 blad-boek is deur Marie Prinsloo voltooi, wat ook betrokke was by haar eerste boeke, Kabouterstories 1 en 2. Sy het ook reeds Avontuurstories vir Agies agter haar naam.

Dis ideaal vir voorlees vir jonger kinders, of self lees vir kinders in die grondslagfase, glo sy.

Van den Berg, eens ’n kleuterskooljuffrou, het begin slaaptydstories uitdink toe haar kleinkinders, nou nege, maar nog klein was. Sy glo ook vas dat stories vertel ’n liefde vir lees by kinders help ontwikkel.

“Ouma, jy vertel dan nie elke keer dieselfde storie op dieselfde manier nie,” het die tweeling op ’n aand vir haar gesê. Sy’t besef hoe kinders eintlik lief is daarvoor om dieselfde verhaal keer op keer op dieselfde manier te hoor en het so besluit om die stories te begin neerpen.

“Die lekkerte van die stories is dat die gebeure daarin almal regtig op ’n manier gebeur het,” vertel sy.

Carel en Liza is meestal die dapper hoofkarakters in haar boeke, asook ander familielede en selfs van hul maatjies uit hul kleuterskooljare. Deur die skryf daarvan het sy ook vir hulle ’n kosbare rekord van hul kinderdae geskep – een wat sy ook graag met ander kinders wil deel.

Die grappige karakter Filipina het in die tweeling se jong dae ontstaan toe hulle nie noodwendig wou erken wie vir kattekwaad op die erf verantwoordelik was nie.

Dan het sy maar gevra: “Was dit die feetjie wat onder die bos bly?”

Daar is 21 kort stories in die boek. In een veroorsaak sy konsternasie as bouers ’n nuwe afdak bou op die erf en in ’n ander reis sy saam met die tweeling as hulle op ’n skaapplaas gaan kuier. Daar is ook die storie van die matras-glyplank, asook voorvalle met Tippex en toiletpapier!

Sy het al van haar stories by plaaslike skole gaan voorlees, en sê die kinders se reaksie daarop was besonders om te beleef. “Een middag het die bure se seuntjie net sy maatjie kom wys by watter huis Filipina nou eintlik onder ’n bos woon,” onthou sy.

Kopieë kan teen R125 by Van den Berg bestel word by lizma@em3.co.za of 083 235 3187.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.