Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Noodpersoneel het nie ’n maklike taak

Dikwels kla inwoners oor die ambulanspersoneel wat nie betyds voor hul deur verskyn wanneer hulle ’n noodgeval het nie.

Maar hoeveel weet watter struikelblokke hierdie personeellede moet oorkom om hul passie uit te leef? Of hoe noodpersoneel gedurig aan diens aangeval word en vir hul veiligheid vrees wanneer hulle in sekere gebiede moet ry om pasiënte te help?

Paarl Post het die afgelope paar jaar oor verskeie voorvalle berig waar ambulanspersoneellede die slagoffer van geweld in Paarl-Oos was terwyl hulle onderweg was om pasiënte te help.

Ambulanse word al te gereeld met klippe bestook wanneer hulle hierdie gebiede binnegaan, wat ook dikwels beteken dat hulle dan weke lank sonder ’n broodnodige ambulans moet sit.

Om hierdie redes ry noodpersoneel nie meer sonder polisiebegeleiding in gebiede wat as gevaargebiede beskou word nie.

Nog ’n uitdaging wat die plaaslike ambulansdiens het, is ’n tekort aan voertuie.

Nadat die Sanddriftstraat-ambulansdiens destyds met ’n hele vloot blink ambulanse kon pronk, het dit nou gekrimp tot ’n skamele drie ambulanse per skof wat die hele Drakenstein-gebied – Simondium, Paarl, Mbekweni, Wellington en al die omliggende plase in Drakenstein en die N1 (Klapmuts tot Rawsonville) – moet dek.

Altesaam 60 personeellede werk by die eenheid waar Terence Klaassen die stasiehoof en Sidney Williams die assistenthoof is.

Volgens Darrel Adams (28), ’n ambulansbeampte, moet honderde mense weekliks in Drakenstein gehelp word.

“Die sentrale beheerkamer by die Tygerberg-hospitaal moet eers gekontak word deur die polisie of die pasiënt of hul familie, en dan eers dra hulle die boodskap aan ons oor met ’n beskrywing van die ernstigheid van die pasiënt se toestand,” verduidelik hy.

“As ons ’n oproep van die beheerkamer ontvang, verwittig hulle ons of dit binne een van die ‘rooi’ gevaargebiede is. Indien dit die geval is, moet ons eers vir polisiebegeleiding wag,” verduidelik Adams.

“Soms moet ons wag totdat ’n polisievoertuig beskikbaar is om ons te help, want hulle het ook klagtes wat bygewoon moet word. Die polisie doen ook altyd hul beste om ons so gou as moontlik met begeleiding tot in die gevaargebiede te help,” sê hy.

“En dan val die skuld altyd op ons dat ons laat is – die publiek verstaan nie die situasie waarin ons verkeer nie. Dikwels begin die misverstande reeds by die beheerkamer wat verkeerde inligting van die oproeper ontvang en verskillende tale is ook ’n groot uitdaging. Oproepe word dikwels opgehoop omdat ons ’n groot gebied het en die beheerkamer doen sy bes om die nodige ambulanse by die dringendste ongevalle te kry,” vertel hy verder.

Adams meen dat die noodpersoneellede hul beste doen om by pasiënte uit te kom en sodoende die beste moontlike mediese hulp te gee. “Mense moet besef ons het ook families en gesinne.”

Hy sê ander uitdagings waarmee hulle daagliks te doen het, is die publiek wat hulle misbruik.

“Hulle sal ’n noodgeval rapporteer net om gratis vervoer tot by die hospitaal te kry vir slegs gewone behandeling, of hulle dink as ons hulle hospitaal toe neem, sal hulle vinniger behandeling ontvang. Dit is glad nie die geval nie. Die hospitaal werk met ’n triage-stelsel en die ernstigheid van die besering of siekte word bepaal en as sulks hanteer,” sê Adams.

Om ’n mediese dienste in ’n noodgeval te bekom, bel die beheerkamer in Kaapstad by 021 937 0500, 112 of 10177.

“Ons geniet almal steeds ons beroep ten spyte van die baie uitdagings – dit is immers ’n roeping om mense te help en lewens te red. Wat ons werk ook die moeite werd maak, is wanneer families kom dankie sê vir dit wat ons vir die gemeenskap doen.”

* Residents are constantly complaining that emergency personnel services take too long before responding. But those who complain are not aware of the challenges.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.