Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nuwe boek kyk na afwesige pa’s

Die bekende joernalis en skrywer Julian Jansen se nuutste boek, Seuns sonder Pa’s, sal binnekort op die rakke wees.Meer as 60% van alle kinders in Suid-Afrika word sonder ’n pa groot. Dit lei tot ’n groot gemis en ’n gevoel van nêrens behoort nie.

Veral jong seuns raak vatbaar vir die invloed van bendes, wat aan hulle kits-kameraadskap bied. Julian, ’n joernalis van Rapporten skrywer van die topverkoper Die De Zalze-moorde, ondersoek hierdie harde werklikheid en vra wat hieraan gedoen kan word.

Julian, wat in Lusikisiki in die Oos-Kaap gebore is, het saam met sy ouers en twee susters na Strand verhuis. Ná matriek het hy sy BA- en B Ed-grade en ’n diploma in hoër onderwys aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf. Julian is tans ’n senior verslaggewer by die koerant.

Hy het verder met Paarl Postgesels:

Wat het tot die skryf van die jongste boek gelei?Toe Lux Verbi Uitgewers my verlede jaar vra om oor vaderlose seuns te skryf, het ek geantwoord dat ek reeds die tema in my kop het. Die rede was dat ek ’n opwindende en verrykende laaste drie jaar van my onderwyservaring oor 18 jaar by ’n skool in Strand as departementshoof vir sosiale wetenskappe beleef. Dit was aanvanklik chaos! Daar was verskriklik baie uitdagings: die voederbuurte is meestal arm huisgesinne, waar die hoof van die huishoudings ’n enkelma of soms die kind se grootouers was. Die behoefte aan ’n vaderfiguur het gemanifesteer in die gedrag van veral seuns en gelei tot ’n legio uitdagings vir homself as skoolgaande kind en ook vir die onderwysers. Ek en my span het in my portefeulje as skoolveiligheidskoördineerder begin om die skoolomgewing te herstel deur ’n rekenaarkamer daar te stel, ligte te vervang, diefwering aan te bring en die gras te sny. Toe bring ons ’n organisasie, Hearts of men, in om hoërisikoseuns te werf. Dit het goeie vrugte afgewerp. Hul skoolbywoning, dissipline en uitslae het baie verbeter. Die skool het vir jare daarna sy regmatige plek in die gemeenskap ingeneem en ’n instelling geword waarop die gemeenskap baie trots kon wees. In die boek vertel ek ook die verhaal van ons eie gesin – die invloed van ’n soldaatpa wat fisiek teenwoordig was, maar emosioneel afwesig was, en toe my drie jongste broers hom die nodigste gehad het, eenvoudig uit ons lewe gestap het en net nooit weer teruggekeer het nie. Ons vier seuns het egter, ongeag die leemte, nooit skollies geword nie – grotendeels omdat ons plaasvervanger-rolmodelle en -mentors in ons lewe gehad het. Sport, onder meer, het op ’n manier ons toekoms gered.

Hierdie boek verskil baie van die De Zalze-moorde. Maar het die moorde die skryf van die boek ook aangehelp, aangesien dit handel oor ’n seun wat bykans sy hele familie vermoor?Die uitgewers het my gevra om die De Zalze-boek te skryf omdat Rapport deurgaans op die voorvoet was met beriggewing en soms scoops van die hoëprofielsaak en ook oor die enorme belangstelling. Wat min mense egter weet, is dat daar in die dampkring van die ondersoek na die moorde baie van my oudleerders of skoolmaats op die een of ander wyse betrokke of na aan die ondersoeke was, of wat sekondêre diensverskaffers was, soos die paramedikus wat Henri van Breda se wonde versorg het, wat ’n oudleerder van my was! Daar was baie seën vir my met die skryf van dié boek – alles het net vir my gebeur, maar dis ’n ander dag se storie.

Vertel ons ’n bietjie van jou grootwordjare? Ek het in die Apartheidsjare grootgeword toe die onderwysstelsel ons kinders tot derderangse burgers kleineer het. Ons het egter toegesien dat ons geleerdheid kry, en al is ons hoërskooldae geslyt in sogenaamde “duiwehokkies” (opslaangeboue van die Hoërskool Gordon in Somerset-Wes), het ’n matrieksertifikaat ons ’n deur na ’n toekoms in ons land gegee. Ek dink vandag met hartseer terug aan die leerders wat weens politieke en ander redes, soos armoede, maar soms ook ’n afwesige rolmodel-pa, nie hul skoolloopbaan kon voltooi nie – veral die leerders wat skool moes verlaat om hul ouer(s) te help om brood op die tafel te sit.Ek het in veldnommers op skool presteer en aan die Strand-liggaamsbouklub behoort. Ek onthou spesifiek twee senior lede van die Paarl-liggaamsbouklub, Okkie Kermis van die bekende Kermis-familie in die Paarl, en John Adams. Hul saggeaardheid, opregte belangstelling in ons jong outjies wat nog spiertjies pomp, sal my vir altyd bybly.

Jy is ook ’n pa. Wat beteken dit en hoe beïnvloed dit jou lewe?Ek moes uit die foute van my afwesige pa leer en dit nie in my verhouding met my twee seuns, my leeus, dupliseer nie. My oorlede vrou en ek was ’n mean team om hulle, ons blessings, groot te maak en vandag kan ons baie trots op hulle wees. Hulle is nie professors of nasionale sportpresteerders nie, maar hulle het die beste geword wat hulle kon word. Alhoewel hul oupa groot hartseer in sy ses kinders gelaat en van ons ma geskei het, sal ons tog altyd sy nalatenskap onthou en hom steeds mis. Hy was beide die held en die skurk in sy kinders se lewe. Die krag van vergifnis, opregtheid, nederigheid en behulpsaamheid is wat ons deur die lewe (kan en moet) dra en dit is die eienskappe wat ek aan my seuns geleer het en steeds gebruik.

Wat sal jy graag vir die jong pa’s van vandag sê?Ek sal sê: Weet julle, daar is die geskenk van ’n kind in jul hande. Kinders is Godgegewe. Die Woord van God maan ons daarteen om kinders te laat struikel. So, wees daar vir jou kind, van voor geboorte tot die dag dat hy of sy met ’n kwalifikasie of vaardighede uit die huis stap. Gee jou kinders ruimte om hul eie foute te maak en gee gereeld positiewe terugvoering. Die woorde uit ’n pa se mond kan meer opbouend wees as ’n pak slae. Pa’s en hul vrou of lewensmaat moet as ’n span hul kind(ers) opvoed sodat hulle eendag meewerkende en produktiewe individue in die plaaslike gemeenskap en breë samelewing kan wees. Wees ’n rolmodel vir jou eie kind, maar meer, reik ook uit na die seuns wat vaderloos is, die jong leeus waarvan die naels ook maar skerp kan wees. Daar rus ’n verantwoordelikheid op elke man (en vrou). Gee hom of haar aanvaarding, anders gaan hulle dit elders soek en vind. Meer: Bid vir jou kinders, elke dag. Vir my is om iemand opregte, werklike vergifnis te kan gee so ’n belangrike eienskap. ’n Vakuum in ons gemeenskappe is om kumulatief, opreg en eerlik te kan vergewe, byvoorbeeld deur oortreders wat uit die gevangenis vrygelaat word, in die gemeenskap te kan opneem en te help om produktiewe lede van die gemeenskap te word. Baie word wel in die Departement Korrektiewe Dienste gedoen, maar wat baat dit indien daardie gevangene parool kry en ’n verworpene in die einste gemeenskap word? Baie kerke vaar goed in hierdie verband, maar sportklubs, nieregeringsorganisasies, skole, sakeondernemings en sakelui kan meer doen.Net soos ons die winkeldief moet vergewe, so moet ons moordenaars, wat opreg spyt is oor hul dade, vergifnis vra nadat hulle uit die tronk vrygelaat is en hulle weer terugneem.Ek dink hier aan ’n inwoner van Paarl, Jeremy Arries, wat deur die organisasie CASE voormalige gevangenes en oortreders weer vaardighede leer sodat hulle ’n werk kan kry en produktiewe burgers kan word. Jeremy het ’n hoofstuk hieroor in Seuns sonder pa’s geskryf en ek het net die grootste respek en waardering vir hom en sy span.

Paarl Post -lesers kan ’n eksemplaar van Seuns sonder Pa’s wen deur die antwoord op die volgende vraag teen Maandag 8 Maart per WhatsApp na 066 484 3728 te stuur: Waar is Julian gebore?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.