Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nuwe brandweerstasie en sentrum vir Klapmuts

Twee groot ontwikkelings in Klapmuts is Woensdag in gebruik geneem.

’n Nuwe brandweerstasie en die amptelike opening van die veeldoelige gemeenskapsentrum is deur Gesie van Deventer, die uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, waargeneem.

Die gemeenskapsentrum is teen ’n koste van R27 miljoen opgerig en sal inwoners van Klapmuts die geleentheid bied om rekeninge te betaal, aansoek te doen om subsidies, boetes te betaal, wyksvergaderings by te woon en aan gemeenskapsaktiwiteite deel te neem – alles onder een dak.

Die brandweerstasie is weens koste-oorwegings op die bestaande Klapmuts-sportterrein gebou deur bestaande geriewe teen ’n koste van R2,5 miljoen op te gradeer.

“Die veeldoelige gemeenskapsentrum huisves ook die nuwe Cape Access e-sentrum van die Wes-Kaapse regering wat inligting en kommunikasie-tegnologie vir inwoners van Klapmuts toeganklik maak. Rekenaars, gratis internettoegang en rekenaaropleiding sal aangebied word sodat dit vir inwoners moontlik is om aansoek te doen vir werk, hul CV’s saam te stel en selfs hul belastingvorms elektronies in te dien,” het Van Deventer gesê.

Sy het bygevoeg die opening van die sentrum volg op jare se beplanning en openbare deelnameprosesse en dit sal bydra tot beter opvoeding, werkverskaffing en sakegeleenthede wat die sosiaal-ekonomiese ontwikkeling van Klapmuts sal aanhelp.

Volgens Van Deventer is die gebou noukeurig ontwerp met groot oorweging aan omgewingsvriendelike aspekte soos die boumateriaal, hergebruik van water op die perseel, opvang van reënwater en sonpanele vir elektrisiteitsopwekking, wat alles saam groot besparings teweeg sal bring.

“Die brandweerstasie is ’n satellietstasie wat noodsaaklike brandweer- en reddingsdienste aan die gemeenskap sal verskaf en reaksietyd sal verminder om veiligheid van inwoners te verhoog.

“Werk aan die projek het met die aanvang van die huidige raad se termyn begin nadat ’n groot behoefte aan nooddienste in die gemeenskap geïdentifiseer is.

“Begrotingsbeperkings en die afwesigheid van ’n geskikte terrein was groot uitdagings, maar ons het geweet ons moes vinnig optree en so kostedoeltreffend as moontlik met openbare finansies werk,” het Van Deventer die proses beskryf.

Die bestaande geriewe by die sentraal-geleë Klapmuts-sportterrein is opgegradeer eerder as om ’n hele nuwe gebou op te rig.

Volgens Van Deventer is dit ’n goeie voorbeeld van innoverende optrede deur die stadsraad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.