Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ondersoek na raaiseldood voltooi

Die lank verwagte brandverslag ná die raaiselagtige dood van Jacques en Sunita van Dyk werp geen lig op wat die nag van 10 Mei 2017 gebeur het nie.

’n Jaar nadat die tragedie in die vroeë oggendure in die Van Dyk-paartjie se plaashuis op Jakhalsvlei buite Wellington afgespeel het, is die ondersoek na hul dood voltooi.

Die Wellington-speurtak het ’n geregtelike doodsondersoek geopen, maar die brandverslag was maande lank uitstaande.

“Die brandverslag is ontvang, maar kan nie spesifiek aandui hoe die brand ontstaan het nie. Die ondersoek is voltooi en sal gevolglik na die senior staatsaanklaer gestuur word vir beslissing,” het Basil Seekoei, Wellington-polisiewoordvoerder, gesê.

Die dood van Jacques en Sunita het groot reaksie landwyd ontlok en baie mense met onbeantwoorde vrae gelos.

Sunita, wat ’n onderwyseres by Laerskool Paarl Gimnasium was, is in ’n bad vol water in die badkamer gevind, terwyl Jacques saam met hul hond, Skollie, op die vloer langs die bad gevind is.

Mense wou weet hoekom die paartjie na hul badkamer gevlug het as daar ’n brand in die woonkamer uitgebreek en hulle geweet het hulle sal nie by die badkamer kan uit nie. En hoekom het hulle nie deur hul kamervenster gevlug nie?

In die lykskouing is gevind dat klein beentjies in Sunita se nek gebreek was, maar dat sy en Jacques weens rookinaseming dood is.

In ’n WhatsApp-boodskap wat Sunita voor haar dood gestuur het, noem sy dat sy haar man van ’n buite-egtelike verhouding vertel het. Die verhouding was glo met die hoof van Laerskool Paarl Gimnasium, maar die hoof het dit ontken.

Danie le Roux het verlede jaar in ’n brief aan ouers van die skool erken dat hy sy professionele perke oorskry en iemand op sy personeel toegelaat het om te na aan hom en sy vrou te kom.

Die aand voor die voorval het Sunita weer in ’n WhatsApp-boodskap geskryf dat sy ’n klomp pille gedrink het, maar die toksikologieverslag wys dat geen dwelms, medikasie, gif of ander chemiese stowwe in die paartjie se bloedstroom gevind is nie.

Vrae is ook gevra oor of ’n vuur in die huis se kaggel tot die paartjie se dood kon gelei het.

Maar die vraag op baie se lippe is of die ondersoeke sal kan wys of die paartjie se dood wel ’n tragedie was en of daar dalk misdaad by betrokke was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.