Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Onderwyser agter tralies

“Ná vier jaar en drie maande het geregtigheid geskied.”

Dit is die woorde van ’n familielid nadat hul kind deur ’n onderwyser in Paarl-Oos seksueel aangerand en verkrag is.

Eugene Newman (58), voormalige onderwyser van Charleston Hill Sekondêr, is Donderdag 29 Augustus deur streeklanddros Norma Smile 13 jaar tronkstraf opgelê. Vyf jaar van die 13 jaar is opgeskort. Sy naam sal ook op die lys van seksuele oortreders geplaas word.

Die hof het bevind dat Newman die slagoffer, wat toe 16 jaar oud was, op 26 Mei 2015 in skoolure seksueel aangerand en verkrag het.

Met Newman se vonnisoplegging wou die staatsaanklaer, Veronica van Wyk, weet of hy enige berou toon oor wat hy aan die slagoffer gedoen het.

“Ek het baie berou oor wat met my gebeur het. Ek wil net jammer sê vir die klaagster en haar ma, asook vir die onderwys-professie,” het Newman gesê.

Hy het volgehou dat hy nie die slagoffer verkrag het nie, maar slegs tussen haar bene gestaan het en dat dit wel verkeerd was.

Van Wyk het Newman in die oë gekyk en wou by hom telkemale weet hoe hy sou gevoel het as dit sy dogter was wat só geskend was.

“Ek is jammer dat my emosies oorgeneem het en my in die situasie laat beland het,” het Newman gesê.

“U het absoluut geen berou nie. U het berou oor die hof jou skuldig bevind het,” het Van Wyk gesê.

Van Wyk het tydens haar slotbetoog volgehou dat kinders beskerm moet word.

“Hierdie hof gaan ook nie die klaagster faal nie. Die hof moenie die klaagster faal soos Charleston Hill Sekondêr se onderwysers haar gefaal het nie.”

Verder het Van Wyk aan Newman gesê dat die hof gehoor het dat sy dogters, broer en onderwysers hom ondersteun het.

“Nou wil ek weet wie van die skool het na die klaagster gegaan om vir haar te sê moenie die skool los nie. Niemand. Ek wil hê die hof moet ’n boodskap na al die skole in Paarl stuur.”

By die hofverrigtinge het Newman se prokureur, Martin Green, op sy beurt ’n brief van die slagoffer aan die hof voorgelees.

Die slagoffer se brief lui as volg: “Daardie tyd toe die insident afspeel het ek nie geweet of ek moet skreeu of huil of wat ek moet doen nie. Ek meng nie graag met mense nie. Ek kon nie hanteer hoe die kinders en onderwysers na my kyk by die skool nie. Ek moes my skoolloopbaan beëindig. My ma, wat die enigste broodwinner is, moes haar werk los. My broer het aan depressie gely en het dieselfde jaar selfdood gepleeg. Ek het myself daarvoor skuld gegee. Meneer Newman het geen respek vir my familie gehad en vir die skool nie. Ek wil net dankie aan die hof en familie sê wat in my geglo het. Ek hoop hy gaan dit nie weer aan iemand anders doen nie.”

Ná Green die brief klaar gelees het, wou hy by Newman weet wat hy van die brief dink.

“Dit is wat ek hoor wat die klaagster op skrif sê. Wie is ek om te oordeel,” het Newman geantwoord.

Die beskuldigde se tweede oudste dogter, Lindsey Newman, wat ook ’n onderwyser by Charleston Hill is, het met haar beurt in die hofbank vertel dat die saak teen haar pa haar familie getraumatiseer het.

“Ons almal wat hier sit, is net mense. As dit jou geliefde is en veral jou pa dan knak dit jou. Ons is deur hel. Behalwe dat dit vernederend is, is dit emosioneel ontstellend. Ons as gesin is heeltemal uitmekaar geskeur.”

Smile het in haar uitspraak die hof toegespreek en die mense aangemoedig om hul rol as volwassenes te vertolk.

Sy het volgehou dat ten spyte daarvan dat die slagoffer se ma haar nie die eerste keer wou glo toe sy haar vertel het dat die beskuldigde haar gesoen het nie, het sy steeds die moed gehad om vir haarself op te staan.

“Newman is na sy interne verhoor na ’n hoërskool in Mbekweni oorgeplaas en ook dáár het ’n leerder ’n saak van seksuele aanranding teen hom aanhangig gemaak,” sê Smile.

Die klaer het later die saak teruggetrek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.