Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ongelukkigheid oor DM rugby ‘verbied’

Met die onlangse feeswedstryd tussen Riverstones en Violets, wat beide hul 120ste bestaansjaar vier, is die mat onder die voete van die rugbygemeenskap uitgeruk.

Dit was ná die Drakenstein-munisipaliteit se weiering dat Dal Josafat-stadion (alom bekend as die Dal) se velde voorberei moet word.

Sedert die verbetering van die Dal Josafat-stadion in 2015 het die munisipaliteit alle rugbywedstryde by die stadion verbied.

Luidens ’n brief van Kevin Benjamin van die Paarl-Sportforum het rugby die afgelope drie jaar die ooreenkoms nagekom en geen ligawedstryde op die bogenoemde stadion toegeken nie, en dit ten spyte van rugby en atletiek se ooreenkoms dat spesiale wedstryde soos die feeswedstryd vanjaar, die derby-wedstryd tussen Young Peoples en Laer Paarl, oudstudente-wedstryde, laerskool-derbywedstryde asook provinsiale wedstryde wel op die Dal gespeel mag word.

“Die algemene gevoel is dat die DM die rugbygemeenskap en publiek wil straf vir hul besluit om nie die vervreemding van die Faurestraat -stadion te ondersteun nie, maar eerder slegs die verbetering daarvan,” sê Benjamin.

Verder noem Benjamin dat ten spyte van rugby se insette, samesprekings en beloftes van die DM is die atletiekbaan sonder rugby se medewete met twee bane voor die paviljoen vergroot en is die diskus- en spiesgooigedeelte binne die rugbyveld met 10m verklein.

Niks het ook gekom van die munisipaliteit se belofte van kunsmatige gras om te vergoed vir die tekortkominge nie, sê Benjamin.

Rugby se pleidooi dat paviljoene langs die buitevelde aangebring moet word om vir die verlies van die stadion te vergoed, is ook geïgnoreer en geen beskutting vir toeskouers is tans by die Dal-sportvelde beskikbaar nie.

“Hoewel die jongste aanslag teen die sportgemeenskap beskou word as ’n poging van die Drakenstein-munisipaliteit om verskillende sportkodes teen mekaar te probeer afspeel, dien atletiek en rugby die belange van sport in die Paarl en is bereid om mekaar te akkommodeer, soos bewys met die onlangse aanbied van die Wes-Kaapse landloopkampioenskap en verskeie liga-rugbywedstryde wat terselfdertyd in die Dal-stadion aangebied is.”

Maar, volgens Gary Boshoff, uitvoerende direkteur: gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, verbied die munisipaliteit nie rugby op die Daljosafat-stadion se hoofveld nie.

“Inteendeel – die munisipaliteit het saam met die sportkodes wat die stadion gebruik, besluit dat die stadion hoofsaaklik as ’n atletiekstadion gebruik sal word,” sê Boshoff.

Hiervolgens het die munisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport die afgelope drie boekjare sowat R20 miljoen in die Dal-stadion belê.

“Daar is ook ooreengekom dat die veld wel vir spesiale rugby- en sokkergeleenthede gebruik sal word, soos byvoorbeeld om van tyd tot tyd provinsiale rugbywedstryde en vertoon-sokkerwedstryde (bv. tussen Ajax en Cape Town City) daar aan te bied,” verduidelik Boshoff.

Munisipale amptenare en verteenwoordigers van die Westelike Provinsie se rugby-unie en die Paarl-rugbykode het vervolgens ’n ondersoek ter plaatse gedoen en bevind dat die spesifieke veld nie op die oomblik aan wêreldrugby-vereistes op die gebied van grootte en veiligheid voldoen nie en is dit dus nie geskik vir rugbywedstryde nie.

Die Drakenstein-munisipaliteit het toe onderneem om in die volgende boekjaar (2019/’20) voorsiening vir die nodige verbeterings te maak. Die beplanning hiervoor is op die oomblik aan die gang en sal deel van ’n omvattende projekplan wees om die stadion in ’n wêreldklas-gerief om te skep.

“Rugbykodes is natuurlik ook nog altyd baie welkom om gebruik te maak van die Faurestraat-stadion, waarvan die veld tans in ’n uitstekende toestand is.”

Die munisipaliteit ontken ten sterkste dat hy ’n aanslag teen die sportgemeenskap voer. “Inteendeel, Drakenstein-munisipaliteit het ’n konstruktiewe en samewerkende verhouding met die Drakenstein-sportraad om sport in Drakenstein volhoubaar te bestuur,” sê Boshoff.

“Die investering in die verbetering van sportgeriewe in Mbekweni (sokkerstadion), Wellington (Pelikaan- en Newtonpark), Hermon (rugby- en sokkerveld), Paarl-Oos (Fairyland Urban Park) sowel as die modernisering van die spreiligte en nuwe netbalbane by Daljosafat, is ’n bewys dat die munisipaliteit gewis die belange van die sportgemeenskap voorop stel en goed op pad is om Drakenstein een van die topsportmunisipaliteite in die land te maak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.