Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Onmin oor afkap van dennebos

Verskeie inwoners van Courtrai is briesend oor hul geliefde woud aangrensend aan die pragtige woonbuurt nou verslind word.

Houtkappers het binne net enkele weke hier oorlog gemaak en bome van meer as 100 jaar oud in vuurmaakhout omgeskep.

Hierdie dennebos is geleë op grond van 104 hektaar wat aan die Afrikaanse Taalmonument (ATM) behoort en definieer die gebied al baie dekades lank.

Die bestuur van die ATM voer egter aan dat hierdie vernietiging van die dennebos gedoen word om veiligheidsredes omdat dit ’n brandgevaar inhou.

Volgens Theo Stehle (afgetrede bosboukundige) is die kroondennebos teen Paarlberg moontlik 150+ jaar oud.

Hy sê dit is reeds teen die middel van die 18de eeu in die Kaap gevestig. Die meeste bome in die omgewing dateer terug tot die middel 19de eeu, dus is die bome besondere groot voorbeelde en het hulle geskiedkundige waarde.

“Die bos dien as skadu teen die somerson vir stappers en fietsryers en dis jammer dat die bome voor die voet verwyder word, vernaamlik omdat hulle nie eintlik ongewens versprei nie – die grys eekhoring hou dit in bedwang deurdat dit die sade (neute) vreet.

“Indien grond onder die ou bome skoongehou word, sal die brandgevaar aansienlik verminder word; ook deur ’n brandbaan van voldoende wydte op die plaas- en woongebiedgrense skoon te maak (wat reeds bestaan).”

Aangesien die Taalmonument se bestuur en die Drakenstein-munisipaliteit blykbaar geldtekorte ondervind, voorsien Stehle ook dat die rehabilitasie van die fynbos ná die verwydering van die uitheemse plantegroei, dus ou dennebome en jong opslagdenne, asook erosiebeheer teen ’n steilerige berghang met baie verweerbare granietgrond, ’n uitgerekte en duur proses kan wees en dat die verwydering van die bos groter nadele as voordele kan hê as voldoende geld nie beskikbaar gestel kan word nie.

“Behoorlike hervestiging van fynbos verg boonop kundigheid, en konsultante kos geld,” sê hy. “Dit moet in gedagte gehou word dat die herhaalde opvolgwerk vir die bestryding van uitheemse indringerplante baie geld kan kos, en as dit nie konsekwent gedoen word nie, kan die gebied in ’n tipe boskasie van indringers en fynbos ontaard wat ’n erger brandgevaar kan inhou, soos ondervinding op baie ander plekke ons geleer het.

“Ondervinding het boonop geleer dat ’n volwasse dennebos met ’n geslote kroondak wat help om die ondergroei te onderdruk, meer kostedoeltreffend bestuur kan word (mits die ondergroei en dooie materiaal gereeld verwyder word), as wanneer dit gekap en na fynbos gerehabiliteer moet word.”

Nuwe intrekkers in die gebied sê hulle het juis huise in Courtrai gekoop oor die prag van die dennebos op hul agterstoep. Hulle meen die gebied van die berg gaan ’n verlate, onsienlike vlakte word, juis omdat die rehabilitasie hiervan nie behoorlik sal geskied nie.

Maar volgens Michael Jonas, die ATM se direkteur, is dit belangrik om die natuurgebied oor die lang termyn as ’n volhoubare, biodiverse ekostelsel te herstel en te beskerm, net soos die Tafelberg Nasionale Park byvoorbeeld die afgelope dekades doen.

“Ons het ook versoeke van die Drakenstein-munisipaliteit se advieskomitee vir die Paarlberg-natuurreservaat asook inwoners gekry waarin hulle hul vrese rakende die brandrisiko en veiligheid van hul eiendomme uitgespreek het. Voorts kom die versoek vir ’n brandstrook via die munisipaliteit vir etlike jare al,” sê hy.

“Die monument het by verskeie organisasies aangeklop om hulp te verleen met die verwydering van indringerplante asook om instandhouding van die brandpaaie te verseker. Ons besef dit gaan vir ’n wyle ‘vreemd’ lyk, maar vra almal om geduldig te wees – die pragtige fynbos en inheemse bosse wat oor ’n paar jaar hier gaan pryk, gaan die moeite werd wees vir ons en ons nageslagte, om nie eens te praat van die voordele vir die fauna en flora op Paarlberg nie. Ons sien dit reeds op ’n klein skaal en in byvoorbeeld die Tafelberg Nasionale Park.”

Gerald Esau van die Drakenstein-munisipaliteit het gesê hulle het nié opdrag gegee dat die dennewoud by Courtrai afgesaag moet word nie, maar het wel ’n permit hiervoor toegestaan.

“Dit is die kontrakteur se verantwoordelikheid om in samewerking met die ATM met die publiek te konsulteer oor die proses wat gevolg sal word. Indien die permitvoorwaardes nie nagekom word nie, behou ons die reg voor om die permit terug te trek.

“In die munisipaliteit se adviserende hoedanigheid wat betref indringerplante en ontbossing was ons reeds met die direkteur van die ATM oor hierdie kwessie in gesprek. Ons het ook met Courtrai-inwoners hieroor vergader en sal ’n opvolgvergadering met die inwoners hieroor reël.”. Residents of Courtrai are up in arms about the very old pine forest which is being chopped down behind this neighbourhood on the slopes of Paarl Mountain.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.