Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oud-Boishaaier reik na Oxford

’n Oud-Boishaaier sprei behoorlik sy vlerke deurdat hy binnekort na Oxford in Brittanje vertrek waar hy aan een van die wêreld se mees gesogte universiteite sal studeer.

Sarel van Baalen het in 2007 aan die Hoërskool Jongenskool Paarl matrikuleer, waar hy nie net ’n A-gemiddelde-kandidaat was nie, maar ook ’n ywerige sportman wat Boishaai se eerste spanne in hokkie en tennis verteenwoordig het.

Ná skool het hy siviele ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch asook ingenieursbestuur studeer.

Sarel het sy loopbaan as ingenieur in 2014 by Group Five begin en was sedertdien betrokke by projekte reg oor Afrika. Maar hy wil steeds sy horisonne verbreed.

Dié jong ingenieur is onlangs tot die Universiteit van Oxford toegelaat om sy MBA-program by Saïd Business School te doen. Toelating tot Oxford is een van sy grootste prestasies en hy sê hy sien baie na hierdie geleentheid uit.

Sarel sê sy skoolloopbaan by Boishaai het die weg vir hom gebaan om hom behoorlik vir sy pad vorentoe voor te berei.

Hy sê as koshuiskind moes hy van vroeg af op sy eie voete staan en besluite onafhanklik van sy ouers maak.

“Ek het wonderlike herinneringe van my koshuislewe daar en in Imhoff-koshuis het ek my eerste sakeonderneming begin – ek het die koshuisvader oortuig om my toe te laat om ’n stoorkamer in ’n snoepie te omskep waar ek elke aand skyfies, sjokolade, koeldrank en worsbroodjies verkoop het. So het ek die mees basiese beginsels van ’n sakeonderneming geleer en het ek my eie sakgeld verdien.”

Sarel sê verder hoewel hy ’n wonderlike skoolloopbaan by Boishaai gehad het, het die uitwerking wat dié skool op sy jongmenslewe sou hê, eers ná skool duidelik begin word.

“Toe ek op skool was, was ek omring met ander seuns wat elke dag hard in hul veld gewerk en uitgeblink het, hetsy dit akademie, sport of kultuur was, terwyl die skool se personeel en sportafrigters almal dieselfde etos uitgeleef het. Dissipline, harde werk, toewyding en om groot te droom het vir my, soos vir die ander seuns, alledaags geword,” onthou hy.

“Ná skool het ek besef watter selfvertroue en rykdom moontlikhede hierdie ingesteldheid, etos en ervaringe vir my bied. Dit het my geleer dat my potensiaal gereeld veel groter is as wat ek dink en dat ek en enigiemand anders met die ‘Boishaai-resep’ daardie potensiaal kan bereik.

“Al my onderwysers was toegewyd aan my en die ander seuns se welstand. My klasse by Juffrou Wena Louw en Meneer Richard Visagie staan wel uit – hulle het nie net die hoogste akademiese standaarde gehandhaaf nie, maar hulle, in besonder, het my en my klas as jong mans, eerder as seuns, geag.

“Daarmee saam het ek talle lewenslesse by ons tennisafrigter, Danny Sullivan, geleer, soos om aan te hou werk totdat jy perfeksie bereik en hoe ’n ‘kampioen’-ingesteldheid jou sal help om jou potensiaal te bereik.”

En nou is die volgende stap in Sarel se lewe ’n reusestap met sy toelating tot die wêreldberoemde Oxford-universiteit.

“Die universiteit, wat kort ná die eerste millennium gestig is en al 69 Nobel-pryswenners opgelewer het, word gereeld as die beste in die wêreld gegradeer.

“Oxford se sakeskool is een van die min skole in die wêreld wat ’n fokus op Afrika het – die dekaan en fakulteit glo dat Afrika in die volgende eeu as vasteland ’n al hoe groter rol in die wêreld gaan begin speel – veral op die gebied van natuurlike hulpbronne, voedselsekerheid, bevolkingsgroei, verstedeliking en ekonomiese groei. Die sakeskool het talle inisiatiewe wat op Afrika en Afrika-studente gefokus is om sodoende nuwe geslagte Afrika-leiers te kweek. Hierdie fokus was vir my baie aanloklik.

“Daarmee saam het die ryk tradisies, geskiedenis, ou geboue en bome van Oxford my die paar dae wat ek in Oxford was, aan dié van Boishaai en die Paarl herinner.”

Sarel se wens vir sy loopbaan vorentoe is om deur middel van sy beroep as ingenieur te werk aan die verbetering van ander mense se lewe, veral op die gebied van hongersnood, werkloosheid en beperkte toegang tot basiese dienste soos water, riool, elektrisiteit en vervoer.

Sarel se studiegeld alleen aan Oxford gaan £57 200 (bykans R1,1 m) beloop. Om hierdie bedrag in te vorder het hy borgskappe nodig.

Besoek die webwerf https://myoxfordmba.fund om te help.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.