Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ouers mor oor skole sê hulle het nie meer plek

Met reuse-ontwikkelings wat voltooi of onderweg is in die Paarl-omgewing het die ernstige tekort aan skole in Drakenstein ’n kommerwekkende werklikheid geword vir ouers wat veg om ’n opvoedkundige plek vir hul kinders te kry.

Met die reuse-ontwikkeling in die gebied en duisende bykomende gesinne wat na die gebied trek, gaan hierdie probleem net erger word.

Maar volgens Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, word ’n nuwe hoërskool, vervangingskole, asook opgraderings en toevoegings vir die gebied geprojekteer ingevolge die WKOD se tienjaar-infrastruktuurplan.

“Dit is onderworpe aan beskikbare geld en onderwysvoorsieningsbehoeftes,” verduidelik sy.

Maar om alles te kroon, het die departement van onderwys min antwoorde of laerskole in die gebied gebou sal word.

Volgens ’n ouer, wat verkies om anoniem te bly, doen hy jaarliks aansoek by ’n tweetalige skool in Suider-Paarl, maar word hy jaar ná jaar weggewys.

“Vanjaar het die skoolhoof en sy beheerraad gesê ons woon nie in die area nie en dit is die rede hoekom my twee kinders nie by die skool aanvaar kan word nie.”

Verder sê hy dat daar leerders is wat wel in dieselfde gebied woon as hy en sy kinders, maar wel by dié skool hul onderrig ontvang.

“Dit raak regtig belaglik. En elke jaar het ons dorp die probleem, maar Engels-medium skole word nie hier gebou nie,” vertel die moedelose ouer.

Ouers in Drakenstein is juis vroegtydig in Paarl Post deur die WKOD in kennis gestel om hul kinders by meer as een skool in te skryf.

Hoewel ouers hul kinders vroegtydig registreer, word leerders steeds afgekeur omdat daar eenvoudig nie meer plek in skole is nie.

Nog ’n ontstoke inwoner van Paarl-Oos het ook op haar beurt vertel dat sy nie deur ’n skool per brief of telefoon in kennis gestel is of haar kind wel aanvaar of op ’n waglys geplaas is nie.

“As ’n bekommerde ouer het ek die skool gebel en die skoolhoof het my verseker dat hulle my wel in kennis sal stel.

“Maandag (6 Augustus) toe ek wel die skool bel, is ek meegedeel dat my aansoek nie suksesvol was nie.”

Dit wil voorkom of die skole die volle kapasiteit vir 2019 reeds vroeg vanjaar bereik het vir graad 1- en graad 6-leerders, met geen ander openbare skole as opsie vir desperate ouers nie.

Ouers beweer nou die meeste van die aansoekvorms vir die kinders is teen die spertyd ingegee, maar steeds is hulle op ’n waglys geplaas.

Verder verduidelik Merton: “Skole moes ouers of voogde in kennis stel teen die laaste dag van die tweede kwartaal, 22 Junie, indien hul kind of kinders in hul skool aanvaar is ná hul aansoek om inskrywing vir 2019.”

Verder sê sy: “Dit is verstaanbaar dat dit ’n baie stresvolle tyd vir ouers is, en baie wat nie die toelating tot 2019 vir ’n skool kon bevestig nie, is onseker wat hulle volgende te doen staan.

“Ons moedig ouers aan om eers skole in hul omgewing te kontak om vas te stel of daar addisionele plekke beskikbaar is en hul plasing op die skool se waglys te bevestig.”

Ouers in Drakenstein wat nie suksesvol of tevrede is met hul kinders se aansoek om plek in ’n skool nie, kan John Goliath van die Kaapse Wynland-distrikskantoor by 023 348 6000 of 023 348 4581 bel, of stuur ’n e-posboodskap na John.Goliath@westerncape.gov.za. Of besoek die distrikskantoor by Hospitaalstraat 6, Paarl, of skakel 021 860 1200.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.