Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Paar veilig ná Turkye-ervaring

Trane van blydskap het Sondag op die Kaapstadse Internasionale Lughawe gevloei toe twee Maties wat tydens die poging tot ’n staatsgreep in Turkye op die Ataturk-­lug­hawe in Istanboel vasgekeer was, geland het.

Carla Bester (22) van De Tyger in Kaapstad se noordelike voorstede en haar vriend, Ockert Douglas (21) van die Paarl, het Vrydag op hul vlug na Suid-Afrika gewag toe ’n faksie van die Turkse weermag die bewind in die land probeer oorneem het.

Meer as 260 mense is in die gepaardgaande aanvalle dood en duisende ander beseer.

Vriende en familie van Bester en Douglas het Sondag met hul aankoms op die Kaapstadse Internasionale Lughawe van blydskap gehuil.

Die twee het aan Netwerk24 gesê hul familie en vriende se gebede het hulle deur die moeilike ervaring gedra.

“Ons het Vrydag omstreeks 18:00 op die lughawe in Istanboel aangekom ná ’n ongelooflike vakansie in Athene in Griekeland.

“Ons was nog ’n bietjie skrikkerig ná twee weke gelede se voorval op die lughawe in Istanboel, maar het gedink daar is nie ’n kans dat so iets weer sal gebeur nie,” het Douglas, ’n B Rek-student in sy derde jaar aan die Universiteit Stellenbosch, gesê.

Hulle sê daar was ’n aankondiging by die lughawe dat alle vlugte vertraag is.

“Ons het toe navraag gaan doen. Die vrou wat ons gehelp het, was nie baie vriendelik nie en het gesê ons moet op die internet gaan kyk.”

Bester, ’n derdejaarstudent in arbeidsterapie, het gesê hulle het toe begin om aan veiligheidsplanne te dink.

Die hysbak het op elke verdieping stilgehou en elke keer as die deure oopgegaan het, het ek gedink iemand wag daar vir ons met ’n geweer.”

Die twee is later weer na ’n sitkamer waar hulle gewag het.

“Iemand het toe gesê ons hoef nie bang te wees nie, want die lughawe word goed bewaak. Ons kon egter niks buite sien nie. Op die internet kon ons sien dit lyk sleg buite en dat talle mense al doodgeskiet is,” het Bester vertel.

Bester en Douglas moes later weer skuiling soek toe hulle ’n ontploffing hoor en voel.

Douglas sê hy en sy meisie het in die sitkamer se badkamer gaan skuil.

“Ek het opgekyk en digte stof het uit die plafon geval.

“Drie keer ná mekaar kon jy die bomme hoor afgaan, maar ons kon niks sien nie.

“Ons het toe begin bid dat die son minstens net moet opkom. Ons het ook ons ouers gevra om te bid,” het Douglas gesê.

Bester sê sy het deurgaans gereeld haar ma gebel en haar liefde verklaar.

“Ek het basies vrede gemaak en bye gesê.”

Saterdagmiddag was die lughawe nog gesluit en duisende mense het tougestaan om nuwe vlugte te bespreek.

Die paartjie het eers Saterdagaand ’n vlug na die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg gekry, waarna hulle Kaapstad toe gevlieg het.

“Dit is lekker om weer op eie bodem te wees.”

Gevra of ’n vakansie in Turkye ooit weer deel van hul toekomsplanne sal wees, is die studente duidelik: “Nie eens dalk eendag nie. Nooit weer nie.” – Shantel Moses/Netwerk24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.