Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Paarl-matrikulant wen Koker-prys

’n Matrikulant van Paarl-Oos is een van die ontvangers van die Afrikaanse Taalraad (ATR) se Koker-pryse vir 2020.

Altesaam agt Afrikaans-liefhebbers het vanjaar ’n prys in die verskillende afdelings ontvang.

Die Koker-pryse gee erkenning aan mense se bydraes tot die bevordering van Afrikaans en die belange van sy sprekers.

“Dit is vir ons veral belangrik dat mense wat agter die skerms werk, die erkenning kry wat hulle verdien,” sê dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR.

“Dit is veral waar van vanjaar se Koker-pryse vir lewenslange bydraes. Sommige mense lewer ongesiens enorme bydraes tot die taal, oor alle grense heen, wat verdien om raakgesien te word. Jonger Koker-wenners dien as voorbeelde vir ander. Hulle word daarmee ook aangemoedig om meer te doen. Vir ’n taal om te groei, moet erkenning aan jonk en oud gegee te word.”

Zebulon Kochk (19) van Charleston Hill Sekondêre Skool in Paarl-Oos, ’n gebied wat gebuk gaan onder erge misdaad en geweld, het hom met sy woordvaardigheid en lewensinsig ver bo die sosiaal-ekonomiese toestande waarin hy grootgeword het, verhef.

Hy gebruik Afrikaans en die letterkunde om sy drome vlerke te gee en uiteindelik aan sy moeilike omstandige te ontkom.

Zebulon is aktief betrokke by Afrikaanse diggroepe en sy gedigte word gereeld gepubliseer.

Hy is ook deur LitNet aangewys as een van die tien beste nuwe skrywers en drie van sy gedigte het die paal in die Avbob-digkompetisie gehaal. Van sy gedigte is in versamelbundels opgeneem en op die Ink-webwerf gepubliseer.

Zebulon is tans ook besig om aan sy eie digbundel te werk. Hy praat met sy digkuns nie net met sy eie mense nie, maar het ’n verstommende vermoë om aan die siel van alle lesers te raak, selfs dié ver verwyderd van sy sosiaal-ekonomiese agtergrond.

Hy het sy eie jeuggroep, “Afries”, in 2019 by sy skool gestig om Afrikaans te bevorder. Hy spoor die jeug aan om vreesloos Afrikaans te wees en hul drome in hul moedertaal uit te leef.

Zebulon het vandeesweek aan Paarl Post gesê hierdie toekenning is ’n geweldige onverwagte eer vir hom.

“Ek was ’n paar jaar terug op ’n baie slegte pad. Ek was met die verkeerde vriende deurmekaar. Ek het self gesien hoe van hulle hul lewe verwoes.

“En toe, skielik, vind ek my bevryding in skryf, en toe ek eers begin skryf, kon ek nie ophou nie. Dit het my lewe verander en my op die regte pad gesit. Dit is al wat ek ook nou wil doen – nou en in die toekoms ook.”

Tans is Zebulon druk besig met sy matriekeindeksamen en wil hy sy bes doen om sy weg te baan vir studies volgende jaar – “hopelik in ’n letterkundige rigting”, sê hy.

Michael Jonas, voorsitter van die direksie van die ATR, glo die wenners van die jaarlikse Koker-pryse het gewis ’n impak op die bevordering van Afrikaans.

“Elk van die wenners het reeds ’n wesenlike bydrae gelewer om houdings van verdraagsaamheid onder die breë Afrikaanse taalgemeenskap te bevorder, te help met die ontwikkeling van ’n gedeelde bestaansnarratief, om taaltrots te skep en die aanvaarding van eienaarskap uit te leef.

“Ons glo die wenners verteenwoordig die breë taalgemeenskap in sy geheel. Die vereerde wenners, hul onderskeie bydraes en projekte weerspieël voorts ook die diverse aard van ons taal,” het Jonas gesê.

Die agt wenners van vanjaar se Koker-pryse is: Prof. Ernst Kotzé (lewenslange bydrae); Shafick April (lewenslange bydrae – postuum); prof. Ena Jansen (bevordering van Afrikaans); Johan Blaauw (bemagtiging); dr. Danny Titus (beskerming – postuum); Constance Thomas (jeugkategorie); Zebulon Kochk (jeugkategorie); en Zalman S. Davids (jeugkategorie).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.