Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Paarl se grootste tragedie nog onthou

Dit was een van daardie perfekte windstil herfsdae in die Paarl. Byna ’n luilekker Vrydagoggend en ek was hieroor bietjie later as gewoonweg van my huis teen Paarlberg op pad werk toe.

Dit was kort voor agt en ek was op pad voordeur toe. My foon lui en ek antwoord dadelik.

“Het jy enige idee wat gaan hier by Paarl Print aan?” vra een van my vele kontakte. Ek sê nee en hy beduie daar is ’n reusebrand.”

Deur die jare as verslaggewer het ek ook maar geleer vir party mense is die geringste brand of ongeluk ’n “reuse”- gedoente, terwyl dit soms maar net ’n “fender-bender” of ’n “storm-in-a-teacup” is.

Ek gryp maar my kamerasak en toe ek my voordeur oopmaak en oor die vallei uitkyk, sien ek onder in die middel van die vallei trek ’n pikswart pluim rook kiertsregop die lug in.

Toe ek dit sien, toe weet ek: Hier is moeilikheid, maar min het ek hoegenaamd gedink watter totale tragedie besig was om daar onder in die vallei te ontvou.

Ek spring in my motor en jaag af Hoofstraat toe, en draai by Optenhorststraat in en tref die spitsverkeer. Ek wikkel tussen motors in en uit en draai toe links op pad na Borstenbergstraat. Hier probeer ’n verkeersbeampte my keer om in te draai, maar ek ry hom byna uit die grond uit en ek kry staanplek naby Paarl Lables.

Teen daardie tyd woed ’n reusebrand in ’n stoor vol handboeke. ’n Brandweerman probeer die vlamme bestry, maar dit lyk asof dit ’n verbete stryd is. Dis ’n ware onkeerbare inferno wat daar brand.

Ek neem foto’s en sien hoe word die personeel van Paarl Print tot oorkant die pad ontruim. Ek het geensins gedink dat daar enige lewensverlies sou wees nie, want so ’n agtermekaar onderneming soos Paarl Media sal immers sulke goeie veiligheids- en gesondheidsprosedures hê dat almal in die geval van ’n brand blitsvinnig na veiligheid gebring sou word.

Ek praat op die toneel met van my kontakte; dis nou al 09:00 en die uitdrukkings op hul gesigte laat my baie bekommerd raak. “Daar is nog mense binne,” sê hulle.

So stap die oggend aan en dis ’n reusestryd vir die brandweerdienste om die brand te blus. Dis bykans onkeerbaar.

En teen omstreeks 12:00 word almal se ergste nagmerrie bewaarheid met die dodetal wat styg en mense wat met baie ernstige beserings hospitaal toe geneem is.

Die volgende paar dae is ek steeds pal op die perseel. Die dag daarna besoek die minister van arbeid die toneel saam met die grootbase van die maatskappy. Die daaropvolgende dae lê ek besoek af by die familielede van die slagoffers.

Dit voel die hele tyd vir my asof ek in ’n beswyming is – sulke goed gebeur tog nie in ’n dorp soos die Paarl nie.

Die Maandagoggend word ’n gedenkdiens vir die slagoffers by die hoofingang van Paarl Print gehou. Die werknemers is stukkend. Hulle steier behoorlik in hul verdriet.

Die dodetal styg tot 13 – sekerlik die grootste arbeidsramp nóg in die Boland.

17 April sal dus ’n dag wat op vele Paarliete se geheue ingeëts bly – ’n dag toe die ondenkbare gebeur het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.