Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Paarl vrou dra fenomenale kroon

“Down-sindroom kom nie met ’n handleiding nie, dit kom saam met ’n ma wat nooit moed opgee vir haar kind nie.”

Só sê Rosalind Kouadio nadat sy 24 jaar gelede die lewe geskenk het aan haar Down-sindroom-kind, Lee-Lynn Watson.

Lee-Lynn, ’n inwoner van Paarl-Oos, is onlangs aangewys as die gesig van Phenomenal Mej. Suider-Afrika, ’n skoonheids- en persoonlikheidskompetisie vir jong vroue met spesiale behoeftes, en sal haar kroon Saterdag (13 April) by Boschenmeer ontvang.

Haar amptelike kroning vind op 23 Augustus in Las Vegas, Nevada, plaas, waar sy die eerste MWI Phenomenal Mej. 2019/2020-kroon en -skerm sal ontvang.

Vir Rosalind is dit steeds onwerklik dat haar enigste kind steeds leef en soveel wilskrag het om al haar drome na te jaag.

“Sy het met haar geboorte 2,7 kg geweeg en die ginekoloog het my die nuus meegedeel dat Lee-Lynn ’n Down-sindroombaba is.” Op daardie tydstip het Rosalind nie eens mooi geweet wat dit beteken as iemand Down-sindroom het nie.Down-sindroom is ’n genetiese toestand wat die algemeenste voorkom en word veroorsaak deur ’n ekstra kopie van chromosoom 21, wat matige tot gemiddelde intellektuele gestremdheid tot gevolg het.

Rosalind het toe by ’n ondersteuningsorganisasie vir hulp gaan aanklop om haar touwys te maak oor hoe om met haar baba te werk.

“Kort ná Lee-Lynn se geboorte het sy by my ouers gaan woon. Op ses maande het sy skielik blou begin word. Min het ons geweet dat dit ’n kenmerk van Down-sindroom is. Sy het ook hartprobleme begin ondervind en moes op ’n jong ouderdom twee hartoperasies ondergaan.”

Lyers aan Down-sindroom worstel met verskeie gesondheidsprobleme, soos hartdefekte, sigprobleme en skildklierprobleme.

Rosalind vertel mense met Down-sindroom verskil wel van ander en het hul eie pragtige talente.

“Sommige kan genoeg leer om volwaardige lede van die samelewing te word en ’n bevredigende lewe te geniet, maar dan is daar ook diegene wat stadig leer. Lee-Lynn is een van daardie kinders wat my beloon met haar oulikheid en sy is baie hartlik en liefdevol,” verduidelik Rosalind.

Lee-Lynn het net soos ander kinders lekker gespeel en kleuterskool toe gegaan. Sy het begin skoolgaan by Ligstraal en is later na Laerskool Paarl Gimnasium se spesiale klas. Sy het haar skoolloopbaan by die Cheré Botha-skool, ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes, in Kaapstad voltooi. Lee-Lynn se grootouers is kort ná mekaar dood, waarna sy by haar pa, Jerome Watson, op Boschenmeer gaan woon het.

“Haar pa het haar geleer om mosaïek-werk te doen om haar besig te hou en haar kreatiwiteit te stimuleer,” vertel Rosalind.

Sy sê as iemand met Down-sindroom geleenthede gebied word, werk hulle baie hard daaraan en is hulle ook baie goed en gewillig daarmee.

“Kinders met Down-sindroom word net soos ander kinders met ’n verskeidenheid eienskappe en vermoëns gebore,” sê Rosalind.

“Ek glo in myself en glo dat ek die onmoontlike kan verrig,” sê Lee-Lynn.

Enigiemand wat kan help om Lee-Lynn haar droom te laat bewaarheid om haar kroning in Amerika by te woon, kan Rosalind by 071 434 1084 bel.

* A Down Syndrome woman of Paarl will soon be crowned as MWI Phenomenal Miss South Africa in Las Vegas, Nevada, in the United States of America. She needs the community’s help to make her trip there possible.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.