Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Paarlse dansers wys hul passie

Dansers van reg oor die land en selfs Ierland kom hierdie naweek hul danspassies in die Suid-Afrikaanse meesters­-lyndans­kampioenskap in die Paarl wys.

Dié gesogte kompetisie, waarin ses plaaslike dansers van Bootscooters SA gaan deelneem, duur van Vrydag 5 tot Sondag 7 Julie in die Paarl-stadsaal.

Lyndans het reeds jare terug sy plek onder Paarliete ingeneem met verskeie inwoners wat reeds gesogte lyndanstitels losgedans het.

Die bekende Paarlse danser en dansinstrukteur Karin van der Merwe, wat die Bootscooters-lyndansklub hier begin het, vertel dat sy begin dans het toe sy net ses jaar oud was.

Volgens Karin het lyndans glad nie, soos baie mense dink, as ’n Country-styl van dans begin nie, maar reeds in die 70’s as Disco in Line. Sy het juis toe al mededingend begin dans.

“Ek het in my twintigerjare klas gegee en in sosiale kompetisies in bal- en Latynse dans onder Fred Astaire-dansstudio’s deelgeneem,” vertel sy.

“Die groot manie met Country Line Dancing het in die 1990’s oor die wêreld uitgebreek nadat die bekende liedjie en video van Achy Breaky Heart die lig gesien het. Ek was toe reeds ’n gekwalifiseerde instruktrise in bal- en Latynse danse, maar het besluit om my internasionale kwalifikasie in lyndans en Country Couples-dans te kry.

“Vir die mense in Suid-Afrika was dit toe heeltemal ’n nuwe danssoort, maar 21 jaar later is dit steeds ’n aanloklike tydverdryf omdat dit eerstens sonder ’n maat gedoen kan word en tweedens kan mans en vroue van enige ouderdom of liggaamsbou daaraan deelneem,” vertel Karin.

Sy sê die Bootscooters het klein begin, maar het nou meer as 100 lede wat so geheg aan mekaar geraak het dat hulle selfs saam vakansie gaan hou.

Oor hoe fiks jy vir lyndans moet wees, sê Karin die beginnervlakke van lyndans verg nie veel stamina nie, maar dit verander wel namate jy as danser vorder.

“Dit is voordelig om so fiks as moontlik te wees, veral as jy op ’n hoër vlak of mededingend dans, maar dit is gewis nie nodig vir mense wat die lekker maklike danse net sosiaal en vir die pret doen nie.

“Dans het in die algemeen so baie voordele en ’n mens kan nie ’n fout maak om dans jou vorm van oefening te maak nie,” sê Karin.

“Maar wat lyndans so uniek maak, is dat dit so verskriklik goed vir die geheue is, want die uitdaging is om ’n volgorde van ’n sekere aantal passies te onthou en dit dan oor en oor na verskillende mure te herhaal.”

Volgens Karin is lyndans goed vir jou siel ook en vergeet jy in oefensessies sommer heeltemal van jou sorge.

Sy meen lyndans is ook ’n goeie grondslag vir kinders wat wil leer dans omdat dit verskillende style en tegnieke inkorporeer en dit kinders wat in paartjies dans van ’n vroeë ouderdom af leer om mekaar met respek te behandel.

Bootscooters het ook ’n professionele groep wat by private of liefdadigheids­geleenthede optree. Die klub hou ook gereeld vasdansaande by sy studio in Suider-Paarl.

Karin vertel lyndans is ’n groot sosiale danssport, maar is ook groot wat die mededingende kant betref.

“Lyn- en Country Couples-dans is al van die vroeë 1990’s deel van die kompetisiekring en hier in Suid-Afrika het ons ons eerste SA kampioenskap in 2001 by Grand West gehou,” onthou Karin.

“Hoewel Country altyd die bekendste lyndansstyl sal wees, het dit deur die jare op ongelooflike wyse in ’n danssport ontwikkel wat ’n wye verskeidenheid style uitbeeld.

Dit sluit nou ook genres soos bal- en Latynse dans, Ierse “riverdance”, straat- en Hip Hop-dans in en inkorporeer ritmetegnieke soos rise and fall wat jy in die wals vind en ander soos pulse, smooth en Cuban ook.

Die kompetisie begin Vrydagmiddag 16:00 met Country Couples- Pro Am (vasdans), spanne, duo’s, quads en uitdunne vir een of twee van die solo-lyndansafdelings en die Saterdag 10:00 met solo-lyndans reg deur die dag tot 18:00.

Altesaam 26 klubs van reg oor die land en sowat 150 solo-dansers neem deel.

Twee van die beoordelaars is van Ierland en is deel van die “CountryVive”-dansgroep wat op Britain’s got Talent deelgeneem het. Shane McKeever, die hoofdanser van dié groep, sal Saterdagaand ’n dansvertoning lewer.

Altesaam nege van Bootscooters se lede neem aan die kompetisie deel.

Paarl se twee wêreldkampioene van 2018, Delia Huskisson en Imma Grobbelaar, neem ook deel en kwalifiseer sodoende om in Augustus hul titels in Blackpool by die wêreldkampioenskap te gaan verdedig.• Mense wat die naweek die SA meesterskampioenskap in die Paarl-stadsaal wil bywoon, kan kaartjies teen R70 per persoon per dag koop. Kaartjies is by die deur beskikbaar, maar is beperk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.