Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Paarlse egpaar oorleef bus-botsing waarin 3 sterf

’n Egpaar van Noorder-Paarl, Pierre (55) en Joleen (49) von Mollendorff het onlangs ’n noue ontkoming gehad toe hulle passasiers was in die noodlottige bus waarin drie mense dood is.

Die Greyhound-bus waarin hulle Sondagoggend 28 April gery het, het tussen Laingsburg en Touwsrivier teen ’n verbygaande vragmotor gebots. Die botsing, waarin drie slagoffers dood en sowat 52 pendelaars beseer is, het nasionale nuusopskrifte gehaal.

Pierre vertel hy en sy vrou het by hul seun in Kimberley in die Noord-Kaap gaan kuier en was op pad terug na die Paarl toe die botsing gebeur het.

Hulle het op die boonste verdieping in die middel van die bus aan die linkerkant op sitplekke 13A en B gesit.

Hy verduidelik ’n vragmotor het in die pad op die N1 (rigting Laingsburg) onklaar geraak en ’n Tautliner-vragmotor, wat ontbytpap vervoer het, het dit probeer verbysteek. Dit was toe dat dié vragmotor die bus van voor getref het.

Hy verduidelik ’n staalraam van die vragmotor het deur die bus gedring en die drie slagoffers wat teen die venster gesit het, is getref. Hulle is op slag dood.

Pierre sê die botsing was tussen 05:00 en 05:30. “Dit was nog pikdonker buite,” het hy gesê. Hy en sy vrou was in daardie stadium wakker. Hy sê hy het gevoel dat die busbestuurder teen ’n spoed van 104 km/h die remme trap en toe hoor hy ’n harde slag toe die bus die vragmotor tref. Hy sê sy GPS was deur die hele rit aan en dit is hoe hy die spoed waarteen hulle gery het, vasgestel het.

“Ek het gedink die bus gaan rol. Ons het veiligheidsgordels aangehad wat gekeer het dat ons uit ons sitplekke geruk is,” het Pierre gesê. Die bus het net voor ’n treinspoor naby die pad tot stilstand gekom.

Die Von Mollendorffs, wat drie weke gelede hul eerste kleinkind verwelkom het, is dankbaar dat hulle ongedeerd uit die wrak geklim het. “Ek sal nooit weer bus ry nie en ek sal my huisgesin verbied om bus te ry,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat Greyhound hom die volgende dag gebel het om te vra of hy en sy vrou beserings opgedoen het en of hulle berading nodig het. “Ek het net gesê ons is oukei.”

Hy sê die botsing was ’n “nare ondervinding” en hy dink nou nog daaraan. • A couple from Paarl survived a fatal bus crash which made national headlines last week. Pierre and Joleen von Mollendorff visited their son in Kimberley and the accident happened on their return to Paarl on 28 April.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.