Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Pelikaanpark ‘gou gereed’

In 2017 is die goeie nuus aangekondig dat Pelikaanpark in Wellington opgeknap gaan word. Maar tot nou – en as gevolg van Covid-19 – word steeds geen rugby-aktiwiteite daar beoefen nie.

Paarl Post het Pelikaanpark onlangs besoek en gesien die bedrading van die spreiligte is gesteel en die oppervlakte van die speelveld is ongelyk. ’n Betroubare bron het ook bevestig dat hulle nog topsoil op die gras moet strooi sodat dit kan bind.

Die bron sê ook twee pogings is al aangewend om boorgatwater op te spoor, maar sonder enige sukses.

In ’n berig wat Paarl Post op 12 Maart vanjaar geplaas het, is volgens Gerald Esau, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, met die sportkodes wat daar speel ooreengekom dat die geriewe reg gaan wees met die aanvang van die rugbyseisoen voor die einde van April vanjaar.

Toe het die Covid-19-inperking natuurlik toegeslaan. Maar is dit ’n gerieflike verskoning vir ’n sportveld waarmee al jare lank gesloer word?

Ernest Saayman, senior bestuurder van sport, parke en begraafplase by die munisipaliteit, sê hoegenaamd nie.

Hy het in ’n regstreekse uitsending op Radio KC se sportprogram oor die kwessies in verband met Pelikaanpark gesels.

“Die Pelikaan-ontwikkeling is ’n multi-year project wat ons toegepas het. Die eerste fase wat ons uitgevoer het, was die omheining wat geëlektrifiseer is. Saam met dit die opknapping van die bestaande kleedkamers.

“Die fase waarmee ons nou besig is en wat die Covid-19-inperking ’n bietjie vertraag het, is die fisieke speeloppervlaktes nadat ons die paviljoene opgerig het,” het Saayman vertel.

“So, dit het gegaan oor die fisieke speeloppervlaktes waar ons nie kontrakteurs kon inbring [tydens vlak 5- en vlak 4-inperking] nie. Dit het die projektydlyn ’n bietjie aangeskuif. Dit is die finale fase waarmee ons nou besig is.”

Van die sportklubs maak reeds gebruik van die lokale op Pelikaanpark vir hul vergaderings. Wat die terrein betref, sê Saayman, beoog hulle om Pelikaanpark voor die voorseisoense wedstryde aanstaande jaar aan die gemeenskap oor te dra. “Ons wil dit teen einde Januarie finaal afgee.”

Saayman het genoem hulle het nog ander bestaande kwessies van die twee rugbyklubs Roses en Hillcrest waaraan hulle aandag moet gee en sal eersdaags met hulle vergader.

Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het aan Paarl Post gesê dié fasiliteite op Pelikaanpark is beskikbaar vir die publiek via die besprekingsproses en dat die Hillcrest Rugby Football Club (RFC) en Roses RFC die fasiliteit vir tuiswedstryde en rugby-oefensessies sal gebruik.

Volgens Jerry Seale, voorsitter van die Wellington-sportforum, word Wellingtonners gedwing om gedurig aan die agterste speen te suig.

“Ons eis dat die burgemeester, Conrad Poole, en sy raad met die nuut gestigte sportforum se bestuur vergader dat ons hulle kan vertel hoe ons voel.”

Seale sê: “Die rugbyklubs en twee skole was by ’n onlangse jaarvergadering van die sportforum teenwoordig, en daar is openlik gesê dat Drakenstein kant kies, en net Paarl en wit gemeenskappe bevoordeel word. Hulle hardloop direk na die munisipaliteit terwyl daar ’n klomp kanale vir die sportforum is waardeur vertoë gerig moet word,” voeg Seale vies by.

Hierop reageer Esau deur te sê: “Die nuwe Wellington-sportforum is onlangs eers – in Oktober – verkies. Nie al die sportkodes in Wellington is op die oomblik by die sportforum geaffilieer nie.

“Dit is die plig van die verkose sportforum om kontak te maak met hierdie kodes om hulle aan te moedig om by die sportforum aan te sluit, wat dan as die spreekbuis vir sport in Wellington sal optree.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.