Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Plaaslike riller-skrywer wen mediaveertjie vir radiodrama

Toe die riller Bloedlyn, in 2015 vir die eerste keer op radio (RSG) uitgesaai word, was dit beslis gepas dat daardie aand ook volmaan was.

Dié riller, met onverklaarbare moorde, ’n volmaan en sprake van ’n weerwolf, het vir die plaaslike skrywer en onderwyser Martyn le Roux ’n gesogte toekenning verseker.

Le Roux is tydens ’n spoggeleentheid op 13 Mei by Vodacom World in Midrand met die ATKV-Mediaveertjie vir beste teks vir ’n radiodrama of -teater bekroon. Verskeie ander presteerders in die Afrikaanse mediawêreld is ook bekroon.

Hy vertel toe hy sy naam gehoor het, het hy toegeslaan.

“Mens gaan eers in denial as hulle jou naam noem. Ek het nie eers gehoor wat hulle sê hoekom ek gewen het nie en op die verhoog toe kon ek omtrent nie ’n woord uitkry nie,” vertel hy.

Volgens Le Roux is Bloedlyn glad nie ’n suiwer Afrikaanse storie nie, maar bevat dit heelwat Engels ook. “Dit is egter bekroon vir die natuurlikheid van die dialoog, want dit is hoe mense deesdae Afrikaans praat.”

Le Roux vertel dat hy reeds baie verbaas was met die reaksie wat hy gekry het na die twee-uur-lange uitsending van Bloedlyn op RSG in 2015 en nou nog meer nadat dit ’n mediaveertjie gewen het.

“Ek het hordes e-posse, tweets, en boodskappe gekry, baie van mense met wie ek deur die jare kontak verloor het. Teatergroepe met wie ek destyds gewerk het en selfs ouddosente.”

Le Roux vertel dat hy aangemoedig is om Bloedlyn in te skryf vir die ATKV-Mediaveertjies.

“Ek het ook nog nooit in my lewe iets gewen nie – nou het ek iets gewen,” glimlag hy.

Hy vertel dat die skryf van dié riller hom vir so ’n goeie jaar besig gehou het, waarna hy dit in 2014 vir RSG ingestuur het.

Die sanger Robbie Wessels is een van die hoof stemkunstenaars vir Bloedlyn.

Behalwe sy skryfwerk is Le Roux tans ’n onderwyser by Hoërskool Labori waar hy Engels en rekenaartoepassingstegnologie gee.

Le Roux het ook self destyds as ’n joernalis en fotograaf by Paarl Post gewerk.

Na skool het hy drama studeer by die Universiteit van Vrystaat (Kovsies) en dis op dié einste kampus waar hy vir die eerste keer met die radio te doen gehad het as hoofomroeper.

Behalwe vir die skryf van radiodramas hou hy homself ook besig met die skep van CGI-illustrasies vir e-boeke en skryf ook stories vir die internet.

“Ek skryf vir die lekkerte. Ek verkies ook om op hierdie stadium vir radio te skryf.”

Le Roux noem ook dat hy tog wil probeer om ’n draaiboek of ’n reeks aan te pak en die filmwêreld te betree.

Hy vertel dat Bloedlyn se opvolg, Die Pelsloper, klaar geskryf is. Sy drama, Dagboek van ’n Wurm sal moontlik vanjaar op RSG uitgesaai word en hy het sopas sy derde drama, Aardverwarming, voltooi wat vir vanjaar se RSG radiodramakompetisie bestem is.

* A local teacher has been crowned with a ATKV-veertjie award for a radio drama that he wrote.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.