Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Polisie op soek na motorswendelaar

’n Sakeman (28) van die Paarl staar tans talle aanklagte van bedrog in die gesig – nie net in die Paarl nie maar tot so ver as Kraaifontein en Woodstock.

Minstens sewe mense het die afgelope twee maande klagtes teen hom by verskeie polisiekantore aanhangig gemaak.

Een van die mees onlangse slagoffers, ’n 26-jarige sakeman van Noorder-Paarl wat motors verhuur, beweer dat die vermeende swendelaar twee van sy Polo Vivo’s ter waarde van R180 000 gesteel het.

Hy vertel dat die man twee maande gelede by sy onderneming aangeklop het om ’n motor vir ’n week lank te huur.

“Die beskuldigde het aansoek gedoen en die nodige dokumente ingedien en daar was in daardie stadium niks om oor onraad te vermoed nie. Ek het selfs so ver gegaan om sy Facebookblad te bestudeer. Alles oor hom het opreg gelyk en ek het sy aansoek goedgekeur,” vertel die slagoffer.

Volgens die slagoffer het die man selfs by die betalingsooreenkoms gehou.

“Hy het ná die eerste week gevra om die motor vir nog ’n week te huur. Omdat hy by sy ooreenkoms gehou het, het ek hom geglo en dit goedgekeur.”

Daarna het die beskuldigde weer die slagoffer gekontak en hierdie keer ’n tweede Polo Vivo vir sy vrou gehuur.

“Hy het gesê dat sy vrou nie vervoer het om die kinders by die skool te gaan haal nie. Hy het toe ’n tweede aansoekvorm ingevul, waarna die tweede motor aan hom goedgekeur is,” vertel die slagoffer.

Die slagoffer het onraad begin vermoed toe die man opgehou het om betalings te maak.

“Met ’n ontmoeting met die huurder en sy vrou het hy aangevoer dat hy vir ’n polis wag om vir die skielike dood van sy kind, wat glo aan kanker gesterf het, uit te betaal. Hy en sy vrou het so oortui­gend geklink, gehuil en ook gesê dat hy ook aan kanker ly,” vertel die slagoffer.

Die slagoffer se agterdog was egter nie gesus nie en hy het besluit om self verder ondersoek in te stel. Hy het ’n besoek aan die huurder se skoonma se woning afgelê.

“Met my besoek aan hul woonplek in Woodstock het ons sy vrou dáár betrap wat ingestem het om ’n verklaring by die polisie af te lê waarin sy erken dat haar man mense inloop deur deposito’s by hulle te neem om voertuie by hom te huurkoop,” vertel die slagoffer.

Volgens hom is die vermeende dief se werkswyse in ’n klagstaat vervat – dat hy “kliënte” voertuie by hom laat huurkoop met die opsie om dit te koop.

“Sodra die kliënte die geld, van R21 000 tot R50 000, aan hom betaal en hy die gesteelde voertuig aflaai, verdwyn hy. Hy en sy vrou vlug dan elke keer na ’n nuwe woonplek en plaas gedurig foto’s van hul nuutste avontuur op Facebook,” vertel die slagoffer.

Nog twee slagoffers van Kraaifontein, wat die eienaar van Noorder-Paarl se voertuie by die man “gekoop” het, beweer dat die vermeende swendelaar hulle met skuld van meer as R21 000 gelaat het.

“Die slagoffers weier nou om my motors terug te gee voordat hulle nie hulle geld van die verdagte ontvang het nie. Ek het hom Sondag 22 September in die Paarl-middedorp sien loop. Ná ’n wilde jaagtog het hy daarin geslaag om weg te kom. Hy het my gebel en gedreig dat hy mense gaan aanstel om my seer te maak,” vertel die slagoffer.

Die polisie is steeds op soek na die man. Enigiemand met inligting oor sy doen en late word gevra om die Paarl-polisiekantoor by 021 807 4000 te skakel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.