Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Polisieman met ’n hart vir mense

“Wanneer jy ander help, help jy jouself.”

Dít is sers. Lance du Plessis (41), ’n polisiebeampte wat hom oor die plaaslike gemeenskap ontferm, se leuse.

Lance is as vandeesweek se Legend of the Valley aangewys danksy sy onbaatsugtig bydrae om die gemeenskap op te hef en by te staan.

Lance werk die afgelope 14 jaar by die Paarl-Oos-polisiekantoor en is sedert 2010 in die sosialemisdaad-afdeling.

Hy het van kindsbeen af daarvan gedroom om ná skool ’n loopbaan as maatskaplike werker te volg, maar om finansiële redes kon hy nie. Hy het toe besluit om die geleentheid aan te gryp om vir opleiding as polisieman, sy tweede keuse, aansoek te doen.

Ná sy basiese opleiding by die polisiekollege het hy sy eerste werk as polisiebeampte by die Paarl-Oos-polisiekantoor begin.

Hy vertel hy is destyds in die diep kant ingegooi en hy moes verskillende pligte uitvoer.

“My pligte het behels die hantering van algemene navrae deur die publiek, die hantering van klagtes, die inhegtenisneming en aanhouding van verdagtes en patrolliediens,” vertel Lance.

Vandag, ná jare in die polisiediens, is hy nie een oomblik spyt oor sy keuse nie.

Hy vertel wanneer hy ’n klagte neem, is dit vir hom belangrik om aandagtig na die klaer se storie te luister. Hy sê ook dat sy diens as polisieman nie ophou waar hy die klagte aanteken nie. Hy doen ook huisbesoek om seker te maak dat die klagte wel opgevolg is.

Hy vertel dat die gemeenskap waarin hy werk waardeer wat hy doen en dat hulle selfs al gedink het dat hy ’n maatskaplike werker is.

“Die gemeenskap het talle briewe aan my vorige stasiebevelvoerder geskryf oor watter positiewe verskil ek in die gemeenskap maak,” sê Lance.

In 2010 is hy na die sosialemisdaad-afdeling bevorder. Hy moes homself toe in ’n tydperk van drie maande bewys.

Lance vertel dat die uitdagings wat die gemeenskap in die gesig staar hom elke dag motiveer en dryfkrag gee om sy werk tot die beste van sy vermoë te doen.

“Vir my het dit nog altyd daaroor gegaan om ’n verskil te maak. Ek is so dankbaar ek het by die polisie aangesluit, want nou kan ek só meer doen vir die gemeenskap. Ek is bevoorreg om die kans te kry om na my medemens te kan uitreik,” vertel hy.

Hy verduidelik voorts: “Dag ná dag kom klop ouers wie se kinders probleme skep aan ons kantoordeur vir hulp. As dit nou soggens vroeg is, dan moet ek daardie kinders wat nie wil skool toe gaan nie na hul skole vervoer.”

Lance vertel sy mikpunt is om by te dra dat minder jongmense in gevangenisse beland.

Hy hou daarvan om met gerehabiliteerde bendelede te werk sodat hulle op hul beurt die kinders wat by bendes betrokke is kan aanspoor om die bende te los.

“Ons moet almal saamwerk om jeugbendes te bekamp. Bende-aktiwiteite is een groot probleem en veral in die gebiede in Paarl-Oos. Soms is die kinders wat by bendes betrokke raak ook net op soek na aandag en liefde wat hulle nie by die huis kry nie. Hulle soek dalk net na ’n persoon wat na hulle kan luister en by wie hulle kan afpak en raad vra. As ek so na die gerehabiliteer-de bendelede luister, kom jy agter hoeveel pyn en lyding hulle ervaar het. Sommige van hulle het by kattekwaad betrokke geraak van dalk nie genoeg aandag kry nie. Van die gerehabiliteerde bendelede het vertel dit was die rede hoekom hulle begin het om te roof en om geld te bekom.

“Ons makeer leiers om ons jongmense se hande te vat en om almal met dieselfde gesindheid te hanteer.”

Hy lewer ook praatjies by 20 skole in Paarl-Oos en bou vennootskappe met die maatskappye, organisasies sonder winsbejag en kerke om misdaad te help bekamp deur bewusmakingsprojekte en ook jeugkampe te reël.

Hy probeer ook vir minderbevoorregte matrikulante wat graag verder wil studeer beurse kry.

Lance skroom ook nie om vir maatskappye of enigiemand wat wil help te vra vir hulp om dit moontlik te maak vir ’n behoeftige matrikulant om sy matriekafskeid by te woon nie.

Wintertye is hy die koördineerder wat uitreikprojekte aanpak om kospakkies en klere aan minderbevoorregtes te skenk.

Hy het die afgelope nege jaar al ’n vennootskap met Magda se Sopkombuis om haar twee keer per week te help waar dit nodig is.

Magda help hom dan weer met kospakkies en klere in die gemeenskap waar hy nood sien.

Lance moedig mense aan om nie ander te oordeel nie, maar almal regverdig te behandel.

“Ek wil ’n ouer broer wees wat ’n glimlag op iemand se gesig sit.”

Hy sê dat hy soms sy familie – sy vrou, Rochelle, en twee dogters, Kari (2) en Logan (16) – afskeep, maar hy het ook gou geleer hoe om sy werk te balanseer.

“Mense jaag hul eie sukses en rykdom na, maar ons het eintlik meer mense nodig wat daarna moet streef om ’n verskil op aarde te maak. As ek die dag die aarde verlaat, wil ek weet ek kon ’n verskil maak.”• A policeman from Paarl East goes beyond the call of duty to help those in need. His childhood dream of becoming a social worker is now expressed through his compassion and conduct as member of the local social crimes unit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.