Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rekordgetal vir parkrun

Altesaam 834 mense – ’n rekordgetal – het Saterdag die eindstreep by die Paarl se 194ste parkrun oorgesteek.

Terwyl inwoners hul voornemens vir die nuwe jaar opvolg om fiks te word of gewig te verloor, het die gratis 5-km-geleentheid die afgelope amper vier jaar groot getalle deelnemers na die Paarl Arboretum laat stroom.

Die parkrun word elke naweek gehou en is een van 224 ander dwarsoor Suid-Afrika wat mense in ’n rustige natuurgebied aan die beweeg laat kom.

Sedert die parkrun in die Paarl begin het, het deelnemers byna 400 000 km in Paarl se boompark langs die Bergrivier afgelê.

Hugo Gerber, die direkteur van die Paarl-parkrun, sê ’n ongelooflike 834 hardlopers en stappers het Saterdag deelgeneem – aansienlik meer as die vorige rekord van 727.

“Ons het ná verlede jaar se groot getal deelnemers ons deur die jaar voorberei om die massas parkrun-deelnemers by die eindpunt te hanteer waar elkeen se nommer geskandeer moet word. Ons by Paarl maak ten volle gebruik van tegnologie om ons op die voorvoet te hou en die lang rye en wag vir almal te beperk. Ons was ook hierdie naweek geseënd met die hulp van die hele Junior Stadsraad. Weens ons toegewyde vrywilligers sou die Paarl-parkrun nie moontlik wees nie, daarom bedank ons almal wat betrokke is,” het Gerber gesê.

Een van die ou staatmakers van die Paarl-parkrun, Faffa Joubert (77), wat al 142 parkruns op sy kerfstok het en gereeld ook met die oggend se reëlings help, sê die parkrun is ’n wonderlike geleentheid vir ’n ieder en ’n elk om ’n bietjie fiks te word terwyl hulle die natuurskoon geniet.

“Ek was destyds ’n drawwer, maar twee knievervangings het my gepootjie. Die Paarl-parkrun bied mense die geleentheid om teen hul eie pas in ’n veilige omgewing saam met ander te stap of te draf.

“Of jy nou wil aanwaggel of jou persoonlike beste tyd wil verbeter, dit is jou keuse.

“Maar mense kom parkrun toe hoofsaaklik vir die genot daarvan, die gesondheidsvoordele asook om met ander op hul eie vlak te sosialiseer.”

Hoewel die meeste mense aan die parkrun deelneem vir suiwer ontspanning en om die natuurskoon van die Paarl Arboretum te geniet, is dit ’n heerlike geleentheid vir almal, maar daar is sommige wat dit geniet om hul persoonlike grense Saterdagoggende te toets en voortdurend hul PB’s (persoonlike beste tye) te probeer verbeter. Tans is die vroue-rekordhouer Thineke Cloete met ’n tyd van 18 minute 25 sekondes en die mans-rekordhouer Adam Faro met 15:57.

Tydsberekening word ook volgens ouderdomskategorieë gedoen, dus is dit ’n goeie manier om ’n atleet se algemene vordering dop te hou.

Die Wellington-parkrun vind elke Saterdag by Imbuko-landgoed in Bo-Dalweg plaas en in Franschhoek is dit by Rickety Bridge.

Parkrun is gratis om te registreer en in te skryf, en deelnemers kan nog inligting by www.parkrun.co.za kry. Onthou om jou strepieskode elke Saterdag saam te bring.• A record-breaking 834 people crossed the finish line at Paarl’s 194th parkrun on Saturday.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.