Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rieldansers skop stof op

Die eindronde van die ATKV-Rieldans is jaarliks ’n geleentheid waar rieldansers van heinde en ver kom om die askoek te trap.

Vanjaar sal dié kompetisie by die ATKV se #Onsefees plaasvind.

Dié fees vind van 6 tot 8 Desember by die Taalmonument in die Paarl plaas.

Volgens Morné van Staden, projekorganiseerder by die ATKV, was dit noodsaaklik om die ATKV-Rieldansprojek na nuwe hoogtes te neem.

“Ons belê al die afgelope 14 jaar in rieldans en ons wou dié kunsvorm op ’n gelyke speelveld met ander kuns­vorms plaas.

“Die riel moet nie meer in afsondering beoefen word nie en verdien erkenning as een van ons mooiste en kosbaarste kunsvorms,” sê hy.

Vanjaar gaan nege spanne – in onderskeidelik die o.14-, o.20- en senior afdelings – sake uitspook om as die konings van die riel gekroon te word.

Die drie kampioenspanne van 2018 sal elke ouderdomskategorie open en die trofeë oorhandig.

Dié spanne maak ook deel uit van die verskeidenheidskonsert 6 Desember wat, onder meer die Namastap-, Maleier-, tradisionele Afrika- en Griekwa-koormusiek en volkspele ten toon gaan stel.

Die rieldanskampioenspanne van 2018 sal ook in Vir die liefde van . . . ’n musikale blyspel 7 Desember optree.

Volgens Maria Klaase, groepleier van die Boesmanland-bitterbessies van Loeriesfontein in die Noord-Kaap, is hulle verheug dat hul geliefde rieldans nou op so ’n groot platform aandag geniet. “Ons sien vreeslik baie uit na die nuwe fees,” sê sy. Boesmanland-bitterbessies is tans die senior rieldanskampioen.

“Dit is vir ons ’n groot voorreg om ons tradisie voor só ’n groot gehoor ten toon te stel. Dit is vir ons iets heeltemal nuuts.”

Sy sê feesgangers gaan deur hul riel betower word. “Ons het ’n paar verrassings vir die gehoor. Hulle kan beslis ’n skouspel verwag.”

Sara van Rooi, groepleier van die Prins Albert-vastrappers, is net so opgewonde.

Die Prins Albert-vastrappers is die huidige o.14-rieldanskampioen.

“Ons kan nie wag nie. Ons voel bitter trots om die kultuur van ons voorouers voor so baie mense op te voer. Hulle het dit vir generasies gedans en ons dans dit nou vorentoe.

“Ons gaan askoek en skaapskeer dat die stof so staan!”

Die ATKV-rieldansvoorprogram met Tribal Echo begin 15:10 waarna die amptelike rielverrigtinge 16:00 afskop.

Kaartjies vir Saterdag kos R100 vir volwassenes en R80 vir kinders en pensioentrekkers. Kaartjies vir die fees kan by Computicket gekoop word.

Vir die volledige #Onsefees program besoek: https://atkv.org.za/neem-deel/feeste/onsefees/

• Twee Paarl Post-lesers kan elk ’n dubbelkaartjie wen na die fees: Whatsapp die antwoord na 066 484 3728 voor Vrydag 6 Desember om 12:00: Wie is die huidige rieldanskampioene?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.