Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rompslomp knel veiligheidsinisiatief

Samewerking tussen alle rolspelers is nóú nog belangriker om misdaad te bekamp, maar dubbeltjies in die pad kan dié proses verhinder.

Die Paarl-Wes Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se uitvoerende komitee het Donderdag 6 Junie die Drakenstein Farm Watch (DFW) in kennis gestel dat dit nie die plaaswag vir die 2019-’20-tydperk onderskryf nie. Die komitee het in die kennisgewingsbrief wat deur Jaco Visser, die voorsitter, onderteken is, gesê van die plaaswag se administrasie is onvolledig.

Dit sluit in die register waarin skenkings aangeteken word, vrywaringsvorms, gedragskodes en polisievrywaringsertifikate.

Die GPF sê ook ná gesprekke tussen Visser en die tesourie is besluit die dokumente is noodsaaklik om te bewys die plaaswag voldoen aan sy grondwet.

“Dit is opgemerk dat die dokumente tot op datum nie oorhandig is nie en gevolglik kan ’n jaarlikse onderskrywing nie aanbeveel word nie,” lui die brief.

Daan van Leeuwen Boomkamp, die voorsitter van die DFW, sê egter die plaaswag se dokumente en papierwerk is heeltemal in orde. “Ek was in 2013 ’n lid van die GPF; ek het daardie dokumente deur ’n prokureur laat opstel,” sê Daan.

Verder verduidelik hy dat die polisievrywarings wat die GPF vereis, dubbele en onnodige werk sal wees omdat al die aktiewe lede vuurwapenlisensies en dus polisievrywaring het.

“Om 40 tot 50 mense nou wéér na die polisiekantore te stuur en om geld te betaal vir iets wat vanselfsprekend is, is nutteloos,” voer hy aan.

Hy sê die GPF soek rede om die plaaswag te belemmer. “Ons het die wag van ’n organisasie na ’n maatskappy sonder winsbejag verander, dus hoef ons ingevolge die wet nie deel van die GPF te wees nie,” sê Boomkamp, maar voeg by dat gesamentlike dienste die breër gemeenskap sal baat. “In ’n neutedop – ons keur nie die toon van die GPF se kennisgewing of die aanname dat ons nie aan al die voorvereistes voldoen nie of die dreigement van die spertyd goed nie,” het hy gesê.

Visser verduidelik weer dat die GPF nie hierdie reëls maak nie en die departement van gemeenskapsveiligheid se grondwet bepaal die vereistes.

Hy sê dokumente moet elke twee jaar hernu word en elke lid van ’n plaas- of buurtwag moet ’n polisievrywaring kan toon ongeag of hulle vuurwapenlisensies het of nie. Hy beweer die plaaswag is al in Februarie hiervan in kennis gestel.

“Ons wil nooit die plaaswag van die hand wys nie, want ons is so dankbaar daarvoor. Hulle doen fantastiese werk en hulle het wat hulle doen bemeester, maar ons moet by die reëls hou,” het Visser gesê.

Hy het bygevoeg die GPF was nog altyd gewillig om saam met die plaaswag te werk. “Ons is baie gemaklik met die plaaswag, maar ons moet by die reëls hou,” het hy gesê. • The Paarl West Community Policing Forum notified the Drakenstein Farm Watch that it will not be endorsing the watch in 2019-’20 due to incomplete administrative functions. DFW argues its administrative functions are in order.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.