Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rugbyster bly droom

“Ek is gelukkig waar ek is, maar my hart klop steeds om weer professionele rugby te speel.”

Só sê die vasberade Cornal Hendricks (28), wat al spanne soos die Springbokke, Cheetahs, Boland-Kavaliers, Blitsbokke, Roses United, Hillcrest en Asian Pacific Dragons verteenwoordig het.

Al is ’n harttoestand, wat hom verhinder om rugby te speel, in 2016 by Cornal gediagnoseer, speel hy elke wedstryd steeds met die nodige geesdrif. Volgens hom lyk dit asof die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) hom steeds doelbewus “miskyk” om professioneel rugby te speel.

Die vurige speler het hierdie jaar talle plaaslike klubs verteenwoordig en sy toekoms lyk steeds belowend nadat hy van Amerika teruggekeer het waar hy die Tiger-rugbyspan verteenwoordig het.

Saru het Paarl Post se navrae ontvang oor waarom Cornal nie oorweeg kan word om professionele rugby te kan speel nie, maar kon dit nie teen druktyd beantwoord nie.

Cornal vertel meer oor sy toestand: “Dit is nie meer vir my ’n sensitiewe saak om oor dit te praat nie, want dit is iets van die verlede. Dit is net sekere mense wat ’n issue het. Sover ek weet is ek ge-clear deur een van die beste spesia­liste in die land en ek kan nie sien dat daar ’n probleem met my is nie.”

Om te bewys dat hy wel in staat is om sy rugbyverpligtinge na te kom het sy voormalige spanmaat van die Blitsbokke, Frankie Horn, hom aan een van Tiger-rugby se eienaars, Paul Holmes, voorgestel.

Holmes saam met die mede-eienaar van die klub, James Hawker, het gesien daar is nog baie vuur in Cornal se spel.

Hy is gevra of hy belangstel om die span in die Las Vegas-sewestoernooi te verteen­woordig. Vir ’n maand lank het hy saam met Horn geoefen om sy fiksheid op ’n topvlak te kry, iets wat hy elke dag doen al speel hy nie.

By die kompetisie vroeër vanjaar in Vegas het hy agt drieë gedruk vir die Tiger-rugbyspan en die span het in die eindstryd teen Japan se nasionale span verloor.

Cornal noem uitnodigings­toernooie stel spelers bloot om teen legendariese sewesrugby­spelers en opkomende professionele sterre te speel wat die kompetisie strawwer maak.

“Dit was ’n baie opbouende ervaring vir my en ek was baie positief toe die toernooi klaar was. Ek het gevoel ek is weer getoets om op ’n hoë vlak te speel.

“Dit is vir almal oukei as ek dáár en vir Paarl-rugbyklub kan speel, maar waarom kan ek nie meer professioneel vir die superrugbyspanne speel nie?” vra hy.

Sy talent is weer hierdie jaar by die Glendale-sewestoernooi in Denver in Amerika raakgesien. In hierdie kompetisie het hy nege drieë in ’n toernooi gedruk wat belaai was met topgehaltesewesspelers soos Tomasi Junior Alosio (Samoa), Matt Turner (Engeland) en Ravouvou Pat Vatemo (Fidji).

Cornal is gekies vir die droomspan van dié toernooi en hy het reeds ’n aanbod gekry om dalk in die toekoms weer daar te gaan speel.

“Hoeveel keer moet ek myself bewys? Daar is niks fout met my nie. Almal wonder waarom ek nie meer professionele rugby op topvlak kan speel nie. Ek self het nie die antwoorde nie; al wat ek weet is dat my dokters vir my gesê het ek is gesond en kan weer rugby speel,” sê hy.

Volgens hom draf hy elke dag en doen ekstra oefeninge. “Wat meer moet ek doen om te bewys ek is fiks genoeg?”

Cornal wil graag sy talent en die ondervinding wat hy opgedoen het met ander deel. Daarom is hy betrokke by Hugenote Hoërskool in Wellington se rugby waar hy sy kennis met die rugbyspelers deel.

Cornal is nie net een van Drakenstein se rugbysterre wat met elke wedstryd sy beste gee nie, hy is ook bedrywig met die Cornal Hendricks-stigting waar hy rugby gebruik om ’n verskil in die gemeenskap te maak.

“Die rede waarom ek elke dag met geesdrif aanpak, is om ’n verskil in mense se lewe te maak, want die lewe is te kort. Ek wil hê hulle moet elke geleentheid gebruik om ook ’n verskil in ander se lewe te maak. Ek glo ook in God, want Hy is die een wat in beheer is van my lewe. Ek plaas elke dag my vertroue in Hom,” vertel hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.