Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Saron-grondkwessie in die kollig op raadsvergadering

Die Drakenstein-munisipaliteit sê hy is gretig om noodsaaklike munisipale dienste in Saron te begin verbeter sodra die minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming die reëlings oor grondeienaarskap afgehandel het.

Die munisipale raad van Drakenstein het onlangs besluit om die lank uitstaande oordragproses te bespoedig.

Hierdie item is met ’n spesiale raadsvergadering op Woensdag 9 September aanvaar, met ’n uitslag van 40 stemme vir, 11 buite stemming en een stem teen die aanbevelings.

Saron ressorteer tans onder die kuratorskap van die minister. Saron word gereguleer ingevolge die bepalings van die Wet op Transformasie van Sekere Landelike Gebiede (TRANCRAA) 94 van 1998.

Daar is al jare lank onderhandelinge gevoer om die gedeeltes van die grond aan die inwoners of ’n regspersoon van Saron en die munisipaliteit oor te dra.

Die oordrag sal verseker dat die eienaars, hetsy die munisipaliteit, die inwoners of ’n regspersoon wat die Saron-gemeenskap verteenwoordig, die grond kan hanteer en ontwikkel.

Die munisipaliteit het gesê hy is bereid om sy bates te gebruik vir sosio-ekonomiese ontwikkeling, mits die grond in die naam van die munisipaliteit geregistreer is en sodoende die munisipaliteit toelaat om daarop te handel.

Die grond wat deur die munisipaliteit benodig is, sluit in: die bestaande begraafplaas, munisipale oord, munisipale skut, munisipale parke, ECD-sentrum, sportgeriewe en ingenieursdienste.

Voorsiening is ook gemaak vir grond vir behuising waar ’n behuisingspyplyn vir 356 eenhede op erwe 534 (gedeeltes), 433 en 1905 aangebring is.

Die perseel wat geïdentifiseer is, val binne die afgebakende, informele nedersetting, ook bekend as plaasgrond, en berus by, maar is nie geregistreer in die naam van die munisipaliteit nie.

Die Drakenstein-burgemeester, Conrad Poole, het op die raadsvergadering gesê die munisipaliteit moet homself teen verkwistende uitgawes op grond wat nie aan hulle behoort nie, beskerm.

“Ons vra eintlik die betrokke mense wat gesag het en die bewaarder (custodian) van die grond is dat hulle aan ons, skriftelik die toestemming en die magtiging gee om die stukke grond te ontwikkel.”

ANC-raadslid Moutie Richards was skepties en wou weet waarom die DA die grondoorhandigingsproses wou bespoedig.

Hierop reageer Poole: “Ja, ons het ’n toelaag van R55 miljoen wat in hierdie boekjaar bestee moet word en as dit nie reggestel word nie, verloor ons die soort geld. Die minister moet dus besluit of ons die toelaag verloor of ons die toelaag kan kry vir die inwoners van Saron om ons toestemming en mag te gee om te doen wat ons moet doen.”

Die ANC het buite stemming gebly aangesien die Saron-gemeenskap, volgens hulle, nie tevrede is met die feit dat die munisipaliteit die grond wil eis nie. “Hulle [die Saron-gemeenskap] voel die grond moet eers in die naam van die Communal Property Association (CPA) oorgedra word en dan moet die munisipaliteit met die CPA kom onderhandel oor wat Saron vir hulle wil gee of nie gee nie,” sê Richards.

Sou die oordrag van grond voortgaan, meen die munisipaliteit, sal die voordele wat die inwoners van Saron sal toekom, beteken dat hulle eienaars word van die residensiële eiendomme wat hulle tans bewoon; en dat ’n beduidende gedeelte grond aan ’n verteenwoordigende enti­teit oorgedra sal word om tot voordeel van die gemeenskap as geheel te benut.

Poole sê in ’n persverklaring ’n aantal van die projekte wat deel uitmaak van die verbetering van noodsaaklike dienste word gefinansier deur nasionale subsidies en as die munisipaliteit dit nie gebruik nie, kan die toelae ingetrek word.

“Verskeie private liggame het ook kennis geneem van hul belang om in Saron aansienlike waarde te belê. Ek wil die inwoners van Drakenstein, ook diegene wat in Saron woon, verseker dat die munisipaliteit alles in sy vermoë sal doen om die geld wat aan ons toevertrou is, te gebruik om noodsaaklike dienste te ontwikkel en te lewer,” sê Poole.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.