Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Seun sterf, meisie gevind

’n Dag nadat twee Wellingtonse kleuters as vermis aangemeld is, is die seuntjie dood en die meisie lewend aangetref.

Hartverskeurende tonele het die gemeenskap van Newton Dinsdagoggend (13 Oktober) geruk toe mense op die vierjarige meisietjie afgekom het wat troosteloos binne ’n voertuig vasgekeer was, met die lewelose liggaampie van haar maatjie langs haar.

Die liggaam van die vermiste seuntjie, Diego Booysens (3), en sy maatjie is in ’n stukkende motor op ’n erf in Newton, Wellington gevind – ’n paar huise weg van hul wonings.

Die erg getraumatiseerde meisie is na die hospitaal geneem. Sy is andersins ongedeerd.

Die kleuters, albei van Coronastraat, is Maandagmiddag 12 Oktober as vermis aangemeld.

Hoewel die eerste reaksie van die breë gemeenskap was dat Diego weens ’n misdaad dood is, het ’n bron naby aan die ondersoek aan Paarl Post gesê die twee kinders het in die motor toegesluit geraak en moes op ’n redelik koue nag daarin oornag. Die oorsaak van die seuntjie se dood is waarskynlik verkluiming.

Die meisie se familie het die twee boesemvriende laas soos gewoonlik in die straat voor hul huis sien speel. ’n Familielid onthou sy het hulle omstreeks 12:00 Maandagmiddag gesien toe hulle uit dieselfde bakkie geëet het.

“Verder het dit net begin stil raak dat ons nie weet watter kant toe hulle is nie. Toe ons weer sien, kon ons hulle nie kry nie, en ons het gesoek, gesoek, gesoek. Ons het dit dieselfde dag by die polisie aangemeld en hulle en ook die brandweer het dadelik gekom,” vertel die familielid, wat gevra het om anoniem te bly.

’n Groot soektog is toe van stapel gestuur en het bykans deurnag geduur.

Die nuus van die tweetjies se verdwyning is breedvoerig op sosiale media verkondig in die hoop dat hulle vinnig gevind sal word.

’n Vriend van die kleuters het die meisietjie Dinsdagoggend omstreeks 08:30 in ’n voertuig op ’n erf in dieselfde straat sien waai. Hy het die volwassenes summier in kennis gestel.

’n Ander familielid van die meisie en ’n familievriend van die Booysens-gesin sê hulle het telkemale verby die huis gestap waar die kinders later gevind is.

“Ons het seker 120 keer verby die huis geloop waar hulle die kinders gekry het. Ons moes eintlik in ons straat jaart vir jaart gestap het, maar ons het dit nie gedoen nie. Hulle [mense in die gemeenskap] sê hulle het kinders daar sien speel, maar ek weet nie watter kinders dit was of wat hulle gesien het nie. Volgens hulle was niemand in die kar nie.”

Die Booysens-gesin was reeds in rou gedompel nadat hul ma, Heidi, op 25 September dood is. Sy is op 2 Oktober ter ruste gelê.

Met Paarl Post se besoek aan die toneel Dinsdagoggend was die erf afgebaken met patoloë besig om ondersoek in te stel. Die polisie se forensiese eenheid het omstreeks 09:45 op die perseel gekom.

Volgens sers. Nceba Vanqa, woordvoerder van die Mbekweni-polisie, is niemand in hegtenis geneem nie. Die polisie is steeds besig om die saak te ondersoek en vra enigeen wat met inligting kan help om die Mbekweni-polisie te kontak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.