Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skeidsregters staak oor misbruik

Rugby in die Westelike Provinsie het tot stilstand gekom.

Die Westelike Provinsie se Skeidsregtersvereniging het as gevolg van toenemende misbruik besluit dat hulle nie skeidsregters vir klubwedstryde in die Westelike Provinsie sal voorsien nie.

Hulle sal dit nie doen totdat voldoende stappe gedoen word teen diegene wat skeidsregters mishandel nie – fisiek of mondelings.

Dié kwessie is jare lank al ’n probleem in klubrugby in die Kaap en elders in die land.

Volgens Netwerk24 is die oorsaak ’n onlangse voorval waarin ’n ervare skeidsregter met ’n bottel in die gesig gegooi en ’n jong blaser deur die kaptein van ’n span rondgestamp is.

Die Skeidsregtersverening het ook beweer dat die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRFU) wedstrydbeamptes nie betaal het nie.

Luidens ’n verklaring deur die WPRFU ondersteun hy die besluit van die Westelike Provinsie se Skeidsregtersvereniging om nie die naweek aan klubrugbywedstryde deel te neem nie.

Op ’n vergadering verlede Donderdag tussen die WPRFU en die Skeidsregtersvereniging is alle klubrugbywedstryde die naweek uitgestel en is ’n memorandum van ooreenkoms onderteken waarin al die bekommernisse uitgelig word.

Die verklaring lui: “(Die) WPRFU het nog nooit beledigende gedrag teenoor skeidsregters (oor die hoof gesien) nie en sal in die toekoms voortgaan om aktiewe stappe te doen om sulke voorvalle in klubrugby te hanteer.

“Formele (tug)-optrede sal deur enige klub of individue wat met die misbruik of intimidasie van skeidsregters te kampe het, (ingestel word), wat daartoe kan lei dat skeidsregtersdienste van toekomstige wedstryde by daardie klub (weerhou sal word).

“Rugby kan nie sonder skeidsregters gespeel word nie en dit is uiters belangrik dat hulle op alle vlakke van die spel gerespekteer word.”

Kevin Benjamin van die Paarl-sportforum sê hulle veroordeel ten sterkste enige mishandeling – fisiek of mondeling – van enige aard teenoor enige wedstrydbeampte in enige mededingende sportkode wat ’n algemene verskyning in vandag se sportwêreld is.

“Die Paarl-rugbykode se beleid is eenvoudig: Die Drakenstein-munisipaliteit se sportvelde het die reg van toegang voorbehou en soos in die verlede sal mense wat hulle aan enige vorm van mondelinge of fisieke mishandeling, rassistiese uitlatings of neerhalende aanmerkings teenoor vroulike beamptes skuldig maak, summier verbied word.

“Ons beroep op alle sportliggame is om konsekwent en daadwerklik op te tree teenoor enige klub, amptenare, speler of toeskouer wat hulle aan bogenoemde gedrag skuldig maak,” het Benjamin gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.