Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skoene vir Ethan

Die versoek vir ’n spesifieke paar tekkies vir ’n vyfjarige outistiese seuntjie het blitsig reaksie ontlok.

En dié keer het die mag van sosiale media ’n positiewe uitwerking gehad.

Carina Verwey, die mamma van Ethan Verwey, het op ’n plaaslike Facebook-blad gevra of daar dalk iemand is met ’n identiese paar tekkies as dié wat sy verlede jaar vir haar seuntjie gekoop het, want sy wou dit graag in groter nommers “oorkoop”.

Klein Ethan se paar het reeds baie knap aan sy voete gesit en hom gedruk, maar hy wou glad nie die nuwe paar rooi tekkies wat sy mamma vir hom gekoop het naby hom hê nie.

“Ek was in trane sommer weer die oggend by die werk oor die vroegoggend se ontsteltenis en het die post op Paarl Pals geplaas in die hoop dat iemand dit sien wat dalk dieselfde tekkies verlede jaar in ’n groter nommer gekoop het en my kon help. Die terugvoering was ongelooflik! Soveel mense het my post gedeel en my genader en selfs die personeel by Ackermans het uit hul pad gegaan om vir ons skoene te soek.”

Carina se Facebook-inskrywing is meer as 1 200 keer gedeel en talle mense het uitgereik.

“Ons het sommer al die nommers groter gekry deur so baie mense wat my genader en boodskappe gestuur het wat wou help, my moed ingepraat het en self met outisme te doen het. Dis so wonderlik, ek wil graag vir elkeen van hulle baie, baie dankie sê.”

Die Verwey-gesin het in September 2014 gehoor dat hul jongste en enigste seun outisties is.

“Dis nou al twee jaar en agt maande vandat hy gediagnoseer is. Ons lewe het so baie verander in hierdie tyd. Ons moes soveel aanpassings maak – almal van ons in die gesin. Dit was en is steeds nie maklik nie. Ons leer elke dag. Dit is ’n avontuur, een wat ons met hom stap elke dag – en ons stap dit een dag op ’n slag.”

Sy vertel dat Ethan hul laatlam is, die seuntjie vir wie hulle lank gewag het.

Carina en haar man, Ziegfried, het ook twee dogters, Alicia (23) en Nicole (16) en ’n kleinseun, Kian (3).

“Ons wou so graag ’n seuntjie hê en het besluit dat my ouderdom nou teen ons begin tel.”

Sy vertel dat sy ’n moeilike swangerskap gehad het, maar Ethan is op sy tyd gebore en was ’n baie gesonde en soet baba.

“Hy moes net op twee maande hospitaal toe gaan waar ons toe vasgestel het dat hy allergies is vir melk. Met dit reggestel, het ek die soetste baba gehad. Dit was so lekker, want hy het nooit sommer regtig gehuil soos wat babas sal huil nie.”

Carina het namate Ethan ouer geword het klein goedjies opgelet wat vir haar vreemd was, maar nie veel daarvan gedink nie.

“Toe hy ’n baba was, het hy altyd na ons geklap as hy nie iets wou hê of doen nie. Ek kon dit nie vir hom afleer nie en dit het my gepla, want dit was iets wat ek baie gou vir die twee meisiekinders kon afleer.”

Sy vertel dat hy begin het om sy bottel hard te gooi as hy nie gelukkig was nie of as hulle iets gedoen het waarvan hy nie hou nie.

Hy het ook nie met die familie se kinders gemeng nie, maar was altyd op sy eie.

Carina vertel dat hy vir eers goed geëet en begin praat het, maar Ethan het toe minder kossoorte begin eet en al minder woordjies begin sê.

Sy onthou ook dat hy vreeslik begin skree het: “Sommer so uit die bloute. Hard en kwaai en hy sou party dae dit heeldag kort-kort doen. Ek het begin wonder en dink, want dit was als te vreemd en hy het begin agterraak by kinders van sy ouderdom. Ek het op Google gaan soek en elke keer op outisme afgekom, maar ek het steeds nie geglo dat dit outisme kan wees nie.”

Nadat Ethan weer een aand vreeslik geskree het, het sy vir Ziegfried gebel en gevra dat hulle hom dokter toe moet neem. Daar is toe vasgestel dat Ethan outisme het.

Hulle is aangeraai om Ethan in ’n kleuterskool te kry sodat hy met ander kinders kan sosialiseer. Die gesin het tóé in Tzaneen gebly en daar was nie ’n kleuterskool waarna hy kon gaan nie. Toe hulle hoor van die Boland Skool vir Outisme in die Paarl het hulle dadelik vir ’n oorplasing gevra.

“Ons lewe het ná sy diagnose ’n totale omwenteling ondergaan en ons moes soveel aanpassings maak. As gesin het ons dit soms baie moeilik. Ons kan nie sommer iewers heen gaan nie. As ons dorp toe wou gaan, moes ons ons daarop voorberei. Ons moes al ons opsies oorweeg en beplan – vir ’n meltdown en wat ons dan gaan doen om ons uitstappie deur te voer of kort te knip.

“As ons wel in ’n winkel met hom loop, dan moet ons sy roete volg. As ons na ’n mall toe gaan en dis te besig, sal hy sy ore toedruk, want die sensoriese eise en geraas is vir hom net te veel. Hy sal skree totdat ek hom al stoeiend en natgesweet terugneem bakkie toe.”

Hy kan na geen partytjie toe gaan nie. Hy loop ook nie in die dorp of enige plek behalwe by die huis en skool nie. Hy moet altyd gedra of gestoot word in ’n stootwaentjie of trollie.

“Met als wat ons doen by die huis of waar ook al moet ons in ag neem of dit hom gaan ontstel en om hom beplan. Dit is soms baie moeilik vir sy sussies en vir Kian.

“Ons is meestal by die huis. Dis waar hy veilig voel en die gelukkigste is.”

Sy vertel dat daar wel een ander plek is waar Ethan op sy gelukkigste en kalmste is, naamlik die see.

Ethan is ook baie roetinevas. Hy dra sy tekkies slegs skool toe en dit mag eers in die motor aangetrek word – nie in die huis nie. Hy dra ook nie baadjies of hemde met ’n ritssluiter of knope en krae nie.

“Elke ouer het soveel drome vir hul kind wanneer hulle gebore word. Drome van wat hulle eendag gaan word. ’n Pa droom van bal skop en krieket speel saam met sy seun en so baie ander dinge.

“Outisme verander als, maar as ons kyk hoe spesiaal ons verhouding met hom is, sal ons dit nie anders wou hê nie. Ethan is gelukkig – hy is so gelukkig. Dis al wat belangrik is nou.”

Sy vertel dat Ethan baie goed vaar by die Boland Skool vir Outisme. Hy begin al baie woordjies nasê, al is dit nog onduidelik.

“Ons is vol moed en vertroue dat hy nog gaan praat, al is dit eers later. Ons kan net vir elke mamma en pappa vra, let op en as iets nie reg lyk nie, kry inligting en vra mense wat weet. Hoe vroeër outisme gediagnoseer word, hoe groter is die kans op hulp vir jou kind. En aan die ander mense: Raak bewus van wat outisme is. Dit sal families waar outisme voorkom baie help as ander mense beter verstaan.”

* Vir meer inligting oor outisme, besoek www.bolandautism.org.za of bel die skool by 021 870 1430.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.