Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skoolkinders beseer toe twee busse mekaar tref

Altesaam ses leerders en vier werkers is gister met noodpersoneel na twee hospitale gehaas ná ’n botsing tussen twee busse.

Die botsing het Woensdag 6 Junie kort na 07:05 op die Wemmershoekpad gebeur.

Die ses leerders, almal van Wemmershoek Primêr, het ligte beserings in die botsing opgedoen en is vir mediese behandeling na die Stellenbosch-hospitaal geneem.

Die vier volwassenes het ernstige beserings opgedoen en is na die Paarl-hospitaal geneem.

Dít volg nadat die twee busse – een met skoolkinders en een met werkers – gelyk in die rigting van Wemmershoekdam wou indraai.

Volgens Marize Mentoor, ’n polisiewoordvoerder van die Franschhoek-polisiekantoor, het die busbestuurder met die werkers “nie mooi gekyk” toe hy in dieselfde rigting as die skoolbus wou draai nie.

Mentoor vertel: “Die skoolbus se bestuurder sê hy het sy rigtingaanwyser aangesit om links te draai. Toe hy wou inswaai het hy meteens ’n harde slag gehoor toe die agterste bus sy bus links agter stamp. Almal was geskok.”

Sy sê die paniekbevange skool­kinders en werkers is met die aankoms van ambulanspersoneel tot bedaring gebring.

“Met die aankoms van die polisie op die toneel was ambulanspersoneel besig om die kinders en werkers te behandel.”

’n Betroubare bron het vertel met sy aankoms op die toneel het drie volwassenes op die grond buite die bus gelê.

“Ses kinders was reeds in die ambulans terwyl die res van die leerders op die toneel vir skok behandel is.”

’n Woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, Jessica Shelver, het die voorval bevestig.

“Ons wag steeds vir ’n volledige verslag van die distriksbeamptes wat reeds die skool besoek het. Maar op hierdie tydstip kan ek bevestig dat ses leerders ligte beserings opgedoen het en na die hospitaal gebring is. Sommige leerders word weens skok behandel.”

Shelver sê die WKOD en die busmaatskappy het alternatiewe vervoer vir die leerders gereël.

Die polisie het ’n ongelukverslag geopen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.