Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Snorre’ gee nie moed op nie

Rugbyaanhangers is van mening dat dit baie vir die spelers en die nasie sal beteken as Peter de Villiers in ’n perfekte wêreld die geleentheid gegun word om die Stormers af te rig.

Daar is onlangs berig dat die Westelike Provinsie-rugbyvoetbalunie se amateurbeen gretig was om die direkteur van rugby, Gert Smal, met Paul Treu te vervang en wou hê dat De Villiers, wat tans in beheer van Zimbabwe-rugby is, die hoofafrigter van die Stormers moet word.

Maar die Stormers het steeds nie sy afrigters vir die Superrugby-reeks vanjaar bevestig nie, veral die rol van die assistentafrigter Paul Treu.

Die omstrede Treu het einde verlede jaar die Stormers se afrigtingspan, onder leiding van hoofafrigter Robbie Fleck, van diskriminasie beskuldig.

Tonge het geklap veral ná die Stormers se skoknederlaag van 40-3 teen die Blou Bulle.

Met die Stormers se meer onlangse naelskraapoorwinnings oor die Lions en Sharks, lyk dit asof Fleck se posisie vir nou veilig is. Maar soos Naas Botha altyd sê, Superrugby word nie in Februarie gewen nie.

Intussen het Paarl Post met De Villiers gesels om sy mening oor die gerugte te hoor en waar hy homself tans bevind.

Verlede jaar het die voormalige Springbok-afrigter sy frustrasie teen die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) met die ondersteuners gedeel en hy beweer Saru weerhou hom om rugby af te rig. Die sloerdery om De Villiers as die moontlike afrigter van die Stormers aan te stel, dra dalk ook by tot sy uitlatings.

Gerugte doen die ronde dat daar by die Westelike Provinsie-rugbyvoetbalunie probleme van die veld af is en dat dié kwessies ’n negatiewe impak op die spelers het.

“Die menslike brein kan nie op twee goed gelyktydig fokus nie. Jy kan nie ’n speler en skeidsregter gelyktydig wees nie. Wanneer spelers met mekaar begin baklei, sal dit in hul spel wys, want hulle kan nie dan konsentreer op wat hulle goed doen nie.”

De Villiers meen “as jy van die veld af kom en na ’n vergadering toe gaan waar jy gaan bepaal wie more die coach gaan wees, dan gaan jy verloor, want een van daardie twee fokusse gaan oorvat”.

“Op die vlak waar hulle nou speel, kan jy nie spanne voorberei nie, jy moet vir wedstryde voorberei. My grootste voordeel is ek rig nie spelers af nie, ek rig mense af. Rugby is nie vir my ’n sport nie dit is ’n leefstyl.”

Maar dit lyk asof Saru steeds nie wil hê De Villiers moet sy voet naby aan rugby sit nie en hieroor het hy homself “afgesny”.

De Villiers fokus tans op sy vordering met die nasionale span van Zimbabwe. Verlede jaar is hy saam met die span weens finansies gedwing om in die strate van Tunisië te slaap met hul voorbereiding vir die kwalifiserende wedstryde vir die Wêreldbeker.

Rugbykenners is van mening dat Zimbabwe nie so goed gevaar het soos hulle gehoop het nie, veral nadat die span nie vir die Wêreldbeker gekwalifiseer het nie.

“Zimbabwe is in vergelyking met die Springbokke ’n klubspan. Die spelers werk in die dag en ook buite die dorp. Dit is moeilik om met ’n span te werk wat net een of twee oefeninge kan bywoon.”

Die unie het slegs 20 rugbyballe, geen duiksakke of skrummasjiene nie.

“Die gemoed van die span is laag, want jy kan hulle nie reg voorberei nie.”

Volgens hom veroorsaak dit dat hulle nie fisiek voorberei is vir internasionale wedstryde nie en “dit was vir hulle ’n groot skok”.

“Behalwe die omstandighede van die land is daar geen geld en die spelers het nie selfvertroue nie. Hulle glo as jy ’n goeie speler wil wees, moet jy vir ’n ander land speel.”

Daar is ook baie leë beloftes aan die span gemaak en volgens De Villiers het die unie gekyk wat hulle uit die spelers kan kry eerder as wat hulle vir die spelers kan bied. De Villiers glo dat die strukture en self die geloof wat hy in die spelers het, sal hulle help om nader aan oorwinning te kom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.