Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Só leer kleintjies van Kinderland

Die Wellingtonner Gertie Smit, samesteller van ’n nuwe boek vir kinders, Bybelliedjies vir Kleintjies en Kleuters,vertel meer oor die ontstaan van dié boek.

Smit, ’n voormalige senior dosent en kursuskoördineerder vir die grondslagfase aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT), het haar ná haar uittrede uit die formele onderwyssektor verdiep in Kinderland Kleuterskool, ’n familie-onderneming in Wellington.

Smit, voorsitter van die skool se beheerraad, ontwikkel ook die skool se ouderdomstoepaslike opvoedkundige program op grond van die nasionale kurrikulum vir vroeëkinderontwikkeling. In dié proses het sy betrokke geraak by die soektog na genoeg toepaslike Afrikaanse rympies om die wye spektrum van Kinderland se jaarprogram te dek.

Eerste bundel

“Ons het in 2014 die Kinderland-dagprogram deur aksienavorsing saamgestel. Die dagprogram is rondom 20 temas gebou en die ideaal is om rympies, liedjies en stories te hê wat by elke tema pas. Die soeke na gepaste rympies vir die verskillende ouderdomsgroepe in ons kleuterskool het gelei tot die bundel Rympies vir Pikkies en Peuters wat in 2015 by Tafelberg Uitgewers verskyn het. ’n Projek is in samewerking met die skrywer Riana Scheepers en Suzette Kotzé-Myburgh van stapel gestuur waaraan 166 skrywers meegedoen het en meer as 600 nuutgeskepte rympies is in die eerste bundel opgeneem,” vertel sy.

’n Tweede bundel, Rympies vir Kleintjies en Kleuters, het in 2017 by Tafelberg verskyn met ’n verdere 400 versies.

Altesaam vyf publikasies is oor die jare bekendgestel.

“Elkeen van die vyf publikasies het ontstaan uit ’n behoefte by Kinderland Kleuterskool op Wellington. Aanvanklik was daar die behoefte aan rympies, maar ons het gou besef dat ons ook liedjies nodig het wat by die verskillende temas pas. Liedjies vir Pikkies en Peuters het in 2017 verskyn met 40 liedjies wat by die stemomvang en belangstellings van peuters en kleuters pas. Vir hierdie doel is 40 rympies uit Rympies vir Pikkies en Peuters getoonset. Daar was ook ’n behoefte aan stories vir ons kleinste maatjies en so het Stories vir Pikkies en Peuters in 2017 die lig gesien,” vertel Smit.

Sy sê hulle het groot waardering vir die bydrae wat Tafelberg Uitgewers tot die uitbouing van vroeëkindontwikkeling met hierdie publikasies lewer.

Volgens Smit het die proses om Bybelliedjies vir Kleintjies en Kleuters saam te stel en op die winkelrak te kry, ongeveer 18 maande geneem. Die konsep is in die tweede kwartaal van 2018 aan Michelle Cooper by Tafelberg Uitgewers voorgelê.

“Nadat sy die groen lig gegee het, het ’n span medewerkers by Kinderland Kleuterskool ses maande aan die skryf en toonsetting van rympies wat die Jesus-boodskap aan die kleintjies moes oordra, gewerk. Die illustrasies van die rympies het daarna gevolg asook die verwerking van die melodieë en stemopnames met die oog op die CD. Die manuskrip is in Junie na Maleisië gestuur om gedruk te word en die boeke was teen die einde van November in ons winkels beskikbaar,” vertel sy.

Volgens Smit is die Kinderland Akademie NPC in 2017 gestig met die doel om opvoeders, wat met kinders in minderbevoorregte gemeenskappe werk, in diens in die Kinderland-dagprogram op te lei. “Die akademie gaan in 2020 betrokke wees by die opleiding van ongeveer 180 VKO-opvoeders in Wellington, Paarl-Oos, Franschhoek, Klapmuts, Riebeek-Wes en Riebeek-Kasteel. Die Kinderland-dagprogram is volgende jaar ook in Engels en Xhosa beskikbaar. ’n Verdere 80 opvoeders sal in Mbekweni en Khayamandi indiens opgelei word,” het Smit gesê.

eerste vyf jaar

“Die eerste vyf jaar van ’n kind se lewe is deurslaggewend vir hul ontwikkeling. In hierdie fase leer hulle teen ’n vinniger tempo as enige ander tyd van hul lewe. Terselfdertyd ontwikkel hulle die nodige kognitiewe en sosio-emosionele vaardighede wat beslissend is vir hul toekomstige vordering op skool. Dit is daarom noodsaaklik dat ons kleintjies blootgestel word aan hoëgehalte voorskoolse opvoeding – net die beste is goed genoeg vir hulle.

“As die Kinderland-dagprogram en die daarstelling van Afrikaanse rympies, liedjies en stories ’n verskil in die lewe van voorskoolse kinders kan maak, is die tyd wat ek ná my aftrede afgestaan het, goed bestee.”

Smit maak dit duidelik ’n publikasie soos hierdie is die resultaat van ’n groot spanpoging.

Die liedjiebundel is die inisiatief en produk van Kinderland Kleuterskool op Wellington en, tensy anders vermeld, is die teks van die liedjies geskryf deur Thys Smith en Gertie Smit terwyl die toonsetting gedoen is deur Carien Smith en Gertie Smit – almal verbonde aan Kinderland.

Bram Potgieter is verantwoordelik vir die musikale verwerking. Die musikale aanbod op die CD word verder versterk deur Marlie Katzke en die plaaslike sanger André Terblanché se vertolkings van die liedjies, terwyl Katzke se voorlesings uit die Bybel mooi by die teikengehoor aanpas.

Die bykomende inligting wat Tasia Rosser deur haar kleurvolle illustrasies gee, versterk die konteks van elke liedjie, wat dit meer toeganklik vir die kleintjies maak.

Oswald Kurten se tipografiese ontwerp en setwerk bied ’n mooi boek wat die opvoeders sowel as die kleintjies sal geniet.

Een gelukkige leser kan die Bybelliedjies vir kleintjies en kleuters wen deur die naam van die samesteller te SMS na 066 484 3728.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.