Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sonop Primêr kry effense verligting teen vlieëplaag

Die vlieëplaag by Sonop Primêr is dalk nog nie heeltemal verby nie, maar leerders kan vir eers weer in vrede onderrig word.

Dit volg nadat 14 vliegskermdeure onlangs by die skool geïnstalleer is.

’n Plaaslike sakeman, Lynden Jafta, het dit sy plig gemaak om dié skool op Keerweerderpad in Klein Drakenstein te help nadat hy self gesien het watter hindernis die vlieë is vir die kinders wat daar skoolgaan en die mense wat daar werk.

Paarl Post het reeds verskeie kere berig oor die ondraaglikheid van die vlieëplaag hier.

Jafta vertel dat hy die skool sowat drie jaar gelede besoek en die vlieëprobleem die eerste keer gesien het.

“Ek het drie jaar gelede onderwyskoopbewyse gekry wat ek aan tien skole geskenk het. Sonop Primêr was een van die skole wat ek gekies het. Terwyl ek en die skoolhoof, Roland Davey, in sy kantoor gesit en gesels het, het ’n hele paar vlieë rondgevlieg. Ek het hom daaroor uitgevra, en nadat hy die probleem uitgelê het, wou ek dit my plig maak om na ’n oplossing te soek.”

Jafta sê spuitgoed en beheermiddels wat deur ’n plaaslike sakeonderneming verskaf is, het net ’n kortstondige oplossing gebied.

Paarl Post het self gesien hoe die plaag, wat veroorsaak word deur nabygeleë landboubedrywighede, soos ’n hoender-, vark- en perdeplaas, die lewe vir diegene in die omgewing baie moeilik maak.

Jafta het besluit om ’n projek te begin om geld vir vliegskermdeure in te samel en vroeg vanjaar het hy sy idee met Old Mutual asook mense van die sepie Suidooster gedeel, wat ’n bydrae gelewer het. ’n Persoonlike bydrae is ook van Clara Meyer ontvang.

Die skool se waardes en die Wes-Kaapse onderwysdepartement se leuse is op die deure aangebring.

’n Oplossing vir die vensters word nou ondersoek, “wat dan hopelik die vlieëprobleem heeltemal sal oplos”.

Twee van Suidooster se akteurs, Dean Smith (Wade) en Gideon Lombard (Stefan), was op die dag van die oorhandiging teenwoordig.

Die skool hoop dat die skerms verligting vir die leerders sal bring sodat hulle nou weer op hul opvoedkundige take kan konsentreer.

Die hoof van Sonop sê ná afloop van Paarl Post se berig oor die vlieë in Februarie, besoek die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit die skool elke twee tot drie weke met die hoop om die oorsprong van die plaag op te spoor. Davey sê die situasie by die skool is nou veel beter as vroeër.

“Die toestand is heel beter as vroeër in die jaar, maar ek dink dit het met die weer te doen.”

Wat die skenking van die vliegskermdeure betref voeg Davey dankbaar by: “Die sifdeure help in ’n mate en verskaf heelwat verligting.”


. Sonop Primary recently received 14 screen doors since they have been facing a fly plague for a while. The doors were sponsored by local businessman Lynden Jafta, Old Mutual, Clara Meyer and the soapie Suidooster.

The sponsorship has given teachers and learners some relief from the pestering flies in the area, says the principal, Roland Davey.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.