Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Studente gewaarsku teen ‘agente’

’n Vrou van Wellington het flink gedink en só ’n lokval vrygespring toe sy onlangs oorval is met boodskappe van ’n sogenaamde modelagentskap.

Die 30-jarige student van die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie (KSUT) vertel dat ’n man wat hom as ene Ashley aan haar voorgestel het, haar oortuig het dat hy vir haar modelwerk by sy agentskap, SA Model Careers, kan kry.

Nóg voorvalle het op 27 Mei ook op die KSUT-kampus plaasgevind toe sogenaamde “agente” verskillende studente genader het om by die modelagentskap aan te sluit.

“Hy (Ashley) het gesê dat hy in Hillcrest woon en dat ek maklik geld by ’n internasio­nale modetydskrif kan ver­dien,” vertel sy. “Ek het my selfoonnommer aan hom gegee met die gedagte dat ek ’n ekstra geldjie kan verdien.”

Toe nóg ’n “agent”, wat haar as Jane Conradie voorgestel het, haar later bel en vra dat sy halfnaakfoto’s van haarself moet stuur, het sy dadelik onraad vermoed.

“Ek het geweier, maar die ‘agent’ het geïrriteerd geraak. Ek het aanbeveel dat ons twee moet ontmoet, maar sy het geweier en aanhoudend daarop aangedring dat ek eers ’n foto moet stuur waar my bene oopgesprei is.”

Volgens die student, wat nie haar naam wil noem nie, het sy probeer om die gesprek met die “agente” voort te sit sodat sy die polisie op die skurke se spoor kon sit, maar die “agent” het haar selfoonnommer geblok.

Sy sê sy kon vinnig dink, maar wat sou gebeur het as hul slagoffer dalk ’n 14-jarige meisie was wat in hul lokval beland het omdat sy graag modelwerk sou wou doen?

Sy het wel die voorval by die Wellington-polisiekantoor aangemeld.

Kapt. Basil Seekoei, woordvoerder van die Wellington-polisiekantoor, het bevestig dat hulle kennis dra van die voorval.

“Ons versoek dat die klaer ’n beëdigde verklaring indien sodat die polisie ’n ondersoek na hierdie aangeleentheid kan open. Volgens hierdie inligting blyk dit dat daar in hierdie stadium nog geen misdryf gepleeg is nie.”

Die publiek word aangeraai om sulke voorvalle by die Wellington-polisiekantoor aan te meld, of die polisiekantoor by 021 864 8440 te bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.