Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sy durf see aan vir kinders

’n Intern-apteker (27) van Mediclinic Paarl het tydens die inperking ’n 8 km-swemtog van Robbeneiland na Kaapstad ten bate van liefdadigheid aangedurf.

Inge-Mari Luttig, oorspronklik van die Oos-Kaap, vertel dat sy vroeër vanjaar in Kaapstad ’n see-swem gedoen het waar sy Simone de Vos ontmoet het. De Vos het haar vertel van haar swemtog van Robbeneiland na Kaapstad.

“Ek het dit baie inspirerend gevind en het besluit om dit op my emmerskoplys te plaas. Nadat ek ’n paar keer saam met Simone in die see geswem het, het ons besluit om in Maart die swemtog van Robbeneiland na Kaapstad aan te durf. Die week voor die swemtog is ek aan iemand blootgestel wat Covid-19 gehad het en moes ek in selfafsondering wees,” vertel Luttig.

Sy vertel toe haar kwarantyntydperk verby was, het die inperking begin en kon sy weer nie swem nie. Intussen is De Vos ook terug na Nederland waar sy as ’n mediese dokter werk.

“Covid was en is op soveel maniere ’n baie moeilike tyd vir almal. Dit voel asof daar ’n donker wolk oor ons almal is. Ek het dus gedink dit sou ’n wonderlike geleentheid wees om iets positiefs en buitengewoon te doen. Ek het besluit om in Julie die Robbeneiland-swemtog te doen om geld in te samel vir ’n weeshuis genaamd Khanya Daycare Centre, in Paterson, Oos-Kaap.

“Peggy Nojoko het die weeshuis begin. Sy het gesien hoeveel kinders sonder huise is en het besluit om iets aan hierdie situasie te doen.

Sy het haar werk bedank en het sedertdien weeskinders en kwesbare kinders ingeneem. Peggy wys geen kind weg nie. Die kinders in haar sorg kom uit verskillende agtergronde: Ouers wat hulle opgegee het, ouers wat verslaaf is aan dwelms en alkohol en ouers wat oorlede is.

Sommige van hulle ly aan emosionele, fisieke en kognitiewe probleme as gevolg van fetale alkoholsindroom (FAS) of hulle ly aan siektes soos MIV/vigs of TB.

“Die liefde, sekuriteit en sorg wat hulle in Khanya Daycare Centre ervaar, is duidelik in die kinders se groot glimlagte omdat Peggy hulle versorg soos haar eie.”

Luttig vertel dat die sentrum se belangrikste bron van inkomste skenkings is en sy het besluit om ’n “gofundme-blad” vir donasies oop te maak.

“Ek was baie senuweeagtig om te swem. Nie net oor die diepsee en die watertemperatuur nie, maar ook omdat die laaste keer dat ek kon swem, voor die grendeltyd was. Ek het egter besluit dit is ’n geloofstap en ek moet net deurdruk.”

Luttig is per boot na Robbeneiland geneem waar sy die swemtog begin het.

“My grootste uitdaging was meer psigies as fisiek. My gedagtes het begin dwaal en ek moes voortdurend my gedagtes in toom hou en terugbring na die swem. Maar wanneer ek aan Peggy en die kinders gedink het, het dit my regtig gemotiveer om voort te gaan.

“Wat ek die meeste van die ervaring geniet het, was die gevoel van absolute vryheid om in die middel van die see te wees met Tafelberg aan my regterkant en dat ek my passie kon uitleef en vir Peggy en die kinders ’n beter lewe skep.”

Luttig het R12 000 ingesamel en sy en Peggy het besluit om die geld in die kinders se skoolopleiding vir die toekoms te belê.

“Die volgende dag ná die swemuitdaging kon my kollegas nie ophou praat oor wat ek gedoen het nie en het dit my opnuut laat besef met watter wonderlike mense ek werk.

“Ek kom van ’n klein dorpie in die Oos-Kaap en is ver van die huis, maar my kollegas het my familie geword. Ek is so dankbaar dat God my deur die swemuitdaging gedra het en deure oopgemaak het vir die voorreg om in die Paarl te bly met sy vriendelike mense,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.