Die bekende Wellingtonner Lynn Arendse, meer bekend as Linnie van die Wellington Antique-winkel, is verlede week oorlede.
Lynn, wat die Wellington Antique-winkel vir sowat 40 jaar bestuur het, het diep spore in menige inwoner se hart gelaat.
“Sy het ’n groot liefde vir die winkel en vir alles wat antiek is, gehad. Mense het haar gereeld genader om hul antieke-items te waardeer en sy het nooit gehuiwer om dit te doen nie,” vertel Iris Jooste, ’n familielid.
“Sy was ’n baie lieflike en behulpsame mens en sy het altyd raad vir alles gehad.”
Volgens Iris was Lynn by die huis nadat die winkel ’n paar jaar gelede gesluit het en het sy haar met naaldwerk besig gehou.
Sy vertel dat Lynn Dinsdag 23 Oktober in die ouderdom van 64 oorlede is.
“Ons sal haar onthou as iemand wat nooit nors was nie, maar altyd vriendelik en probeer het om almal te help en op te beur.”
Lynn laat haar broer, suster en ander familielede agter.
Die roudiens is vanaand (1 November) om 19:30 in die Breedt-saal in Wellington. Die begrafnis vind Saterdag 3 November om 09:00 by die huis in Hoogstraat 3, Wellington plaas en 10:00 in die VGK Wellington, Mellingstraat.
Vir enige navrae, bel Iris by 082 461 7210.