Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Taalvegters ryg pryse in

Gaireyah Fredericks en die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) is by ’n spoggeleentheid, aangebied deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), as die 2020-wenners van die Neville Alexander-prestige-eerbewyse vir die bevordering van Afrikaans aangewys.

Prof. Michael le Cordeur van die Universiteit Stellenbosch is vir sy lewenslange en uitnemende diens aan die Afrikaanse taalgemeenskap vereer.

Die pryse, ter waarde van altesaam R60 000, word deur Naspers geborg en is Saterdag 10 Oktober by die Historium-konferensiesentrum in die Paarl deur prof. Elvis Saal, voorsitter van die ATM-raad, oorhandig. Hy het ook die gedenklesing “Om Afrikaans te Herskep” gelewer, waarin die klem op die herskep van Afrikaanse ruimtes – dat Standaardafrikaans veelkantiger is en dat die standaard verder geafrikaniseer moet word – geval het.

Onder die inisiatiewe van Fredericks, ’n aktrise en skrywer, tel die Moedertong-werksessies vir skeppende skryfwerk, haar formele mentorskap-program, haar bevordering van die taal onder Moslem-sprekers van Afrikaans, asook haar pogings om jong skrywers aan literêre feeste bloot te stel. Fredericks het deur haar werk in Afrikaans ’n rolmodel vir baie geword en sy dra tot die viering van die taal se skoonheid en nalatenskap by.

Die SBA se missie is om geletterdheid deur Afrikaans te ontwikkel en terselfdertyd respek vir Afrikaans te bewerkstellig. Hierdie organisasie het die afgelope jare met ’n fokus op onder meer veeltaligheid, ’n praktiese werksoek-sakgids in Afrikaans, Xhosa en Engels gepubliseer, bykomende Afrikaanse leermateriaal aan skoolleerders versprei, veeltalige kinderboeke uitgegee, ’n Mandeladag-jeugleiersforum aangebied, en voortgegaan met hul suksesvolle storiesprojek, Amagama-veeltaligheidsprojek en Afrikaans Sing!-koorgeleentheid.

Le Cordeur het in sy hele loopbaan van 40 jaar sy tyd en lewe daaraan gewy om Afrikaans vir almal toeganklik te maak en die taal as ’n medium te gebruik om samehorigheid en nasiebou te bevorder. Dit was aanvanklik as Afrikaans-onderwyser, later dosent in Afrikaans en opvoeder van toekomstige Afrikaans-onderwysers, asook sy volgehoue betrokkenheid by die breë Afrikaanse landskap.

Die wenners het ’n sertifikaat ontvang en prysgeld ter waarde van R20 000 elk ten behoewe van relevante taalprojekte.

Neville Alexander (1936 - 2012) was ’n bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika beywer het.

Volgens Michael Jonas, ATM-direkteur, is hierdie eerbewyse ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans te gee en om taalprojekte te bevorder.

“Vanjaar se keuses was selfs moeiliker as vantevore, want ons het werklik uitstaande inskrywings gehad. Ons bedank almal wat vir hul onbaatsugtige werk om Afrikaans te bevorder, benoem is; dit word nie misgekyk nie. Doe zo voort.”

Die bespreking “Vele Tongvalle, Een Taal – veeltaligheid in Afrikaans” is ook gehou met Jonas as gespreksleier en die jong paneellede Giselle Botha, Monn-lee Geduld en William Sezoe, waarna die gaste vrae aan die deelnemers kon stel.. Besoek www.taalmonument.co.za of volg die ATM op Facebook vir nog inligting oor die monument, wat vanjaar 45 jaar jonk is, asook sy opwindende komende somerprogram. Skakel 021 863 0543/4809 vir ander navrae.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.