Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Talle Klapmuts-inwoners kry titelaktes

Baie Klapmuts-inwoners was onder die begunstigdes wat op 3 Desember van huurders in eienaars omskep is.

Die oorhandiging van 326 titelaktes aan inwoners van Klapmuts, Kylemore en Khaya­mandi is moontlik gemaak deur die munisipaliteit in samewer­king met Johann Rupert en die Vryemarkstigting (FMF).

Dit volg op die 367 titelaktes wat vroeër vanjaar oorhandig is en die totaal is Maandag na 693 vir die jaar opgestoot.

Die 110 titelaktes aan Klap­muts-inwoners vorm deel van ’n behuisingsprojek op erf 342. Gedurende die eerste en tweede fase is 831 huise gebou terwyl die modernisering van die informele nedersetting Man­dela­stad steeds plaasvind.

Vroeër dié jaar is 183 titel­aktes aan Klapmuts-inwoners oorhandig.

Die oudste ontvanger van ’n titelakte Maandagoggend was die 89-jarige Khayamandi-inwoner, James Mzalwana.

’n Trotse Gesie van Deventer het haar rol as burgemeester in die oorhandigings­proses met dié van Kersvader vergelyk.

“Ek voel soos Kersvader, want vandag het ek die voorreg om aan julle die beste geskenk te oorhandig. Nes Kersvader is al die werk reeds gedoen, die pakkies is klaar verpak, maar hy kry die voorreg om dit uit te deel.”

Rupert het die administra­tiewe onkostes vir die proses gedek wat aan die inwoners ’n sertifikaat gegee het wat bewys dat hulle huiseienaars is.

Rupert, wat ook die oorhan­diging gedoen het, het gesê dat dit vir hom ’n spesiale oomblik is omdat dit op dieselfde dag plaasvind as wat sy ma se 100ste verjaarsdag sou wees. “Sy het ons een ding geleer en dit is om te deel. Sy sou van­dag so trots gewees het, want dit is nie ’n geskenk nie, maar eerder net ’n bewys van wat julle reeds besit.” Rupert se inisiatief is deel van die FMF se Khaya Lam-grondhervor­mings­projek wat deur die Reinet Stigting gefinansier is.

Leon Louw van die Vrye­mark­stigting (FMF) het die oorhan­diging van die 326 titel­aktes aan inwoners as ’n reuse­sukses in die geskiedenis van Suid-Afrika bestempel.

“Dít is die grootste oorhan­diging van titelaktes in Suid-Afrika. Ek hoop om te sien dat dit net groter en groter word,” sê Louw.

“Een van die dinge waarmee ons gesukkel het, was dat swart mense en mense van kleur nie toegelaat is om grond te besit nie en hul grond is onteien sonder vergoeding. Dit is inte­ressant dat daar gesprekke is om nou weer te doen wat Apartheid gedoen het.”

“Dit is vandag ’n voorreg uit die Hand van die Here,” sê Debbie Smith, ’n inwoner van Klapmuts wat haar titelakte ontvang het. “Ek is baie bly. Toe ons ingestap het, het hulle vir ons gesê ons is huurders en nou is ons eienaars.”

Vandat Van Deventer in 2016 as burgemeester verkies is, was daar ’n agterstand van 2 700 hui­se wat aan begunstigdes oorhandig moes word. Sy het haar toegewy om voor die einde van haar termyn elke uitstaande huis te probeer oorhandig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.