Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Tariewe kan vonke in hof laat spat

Sakeondernemings en plaaslike boere in Drakenstein meen dit is tyd om regstappe teen die Drakenstein-munisipaliteit se hoë kragtariewe in te stel aangesien hul versoeke op dowe ore val.

Volgens Dirk Breytenbach, voorsitter van die Drakensteinse sakekamer, duur gesprekvoering al maande lank met die munisipaliteit oor die kragkoste wat plaaslike ondernemings kelder.

“Die sakekamer voel kragverbruikers is ten spyte van al die onderhandelings die afgelope maande steeds sielsongelukkig daaroor. Al die forums en groepe het verkies om eers te onderhandel alvorens ’n saak by die hof aanhangig gemaak word. Daardie roete is nou uitgeput. Ek voel die tariewe is spesifiek ontwerp om groter ondernemings as ‘kontantkoei’ te gebruik,” het Breytenbach gesê.

“Hierdie is alles deel van die munisipaliteit se oorhoofse dilemma met inkomste wat aanhoudend daal. Die munisipaliteit het eintlik nie ander opsies nie behalwe om tariewe eenvormig vir alle verbruikers te verhoog, maar dit sal ’n politieke debakel ontlok. Ek as ’n kapitalistiese vryemarksakeverteenwoordiger het nie die aptyt om die politieke kwessies te beredder en te bestuur nie. Daarvoor word mnr. Poole en sy span ruimskoots vergoed. Dis dalk tyd dat die saak in die hof uitgeklaar word, want dit sloer nou te lank en sakemense se geduld is tot die uiterste beproef,” het Breytenbach gesê.

Die ongelukkigheid spruit uit strukturele veranderings wat kommersiële en nywerheidstariewe se elektrisiteitsrekeninge verlede jaar in Drakenstein met tussen 40% en 70% laat styg het.

Kommersiële- en nywerheids-kragtariewe was voorheen aan die tyd van gebruik gekoppel en verbruikers het dus ’n hoër tarief in spitstyd betaal. Die munisipaliteit het dit egter verander vir gebruikers wat meer as 100 kVA gebruik en ’n heffing op hul halfuur van hoogste aanvraag per maand ingestel. Tariewe is wel verlaag en is nou per kWh heeldag dieselfde, maar die heffing op maksimum aanvraag (kVA) trek die strop stywer om die nekke van grootmaat-gebruikers.

Ondernemings meen ook die uitwerking van die tarief-veranderings is nie deeglik vooraf met hulle bespreek nie, maar volgens Marius Wüst, Drakenstein se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, het die munisipaliteit in 2019 die beoogde tariefverandering en moontlike verhogings by hul jaarlikse openbaredeelnamevergaderings vir die geïntegreerde ontwikkelingsprogram (GOP), wat in elke wyk gehou word, met die publiek bespreek.

“Die munisipaliteit het ook ’n herinneringskennisgewing aan elke munisipale rekeninghouer gestuur. Verder het die munisipaliteit in die implementeringstydperk tientalle aangesig-tot-aangesig-besprekings met verbruikers gehou om die verbruikers te help,” het Wüst gesê.

’n Sakeman wat residensiële en sake- en nywerheidspersele in Drakenstein besit en verhuur, het aan Rapport, Paarl Post se susterskoerant, gesê sy kragkoste het op ’n jaargrondslag met sowat 42% gestyg. Hy sê by een van sy persele was die rekening in Maart R189 695 in vergelyking met Maart 2019 se R136 065.

’n Vrugteboer, wat nie sy naam wil noem nie, het ook aan Rapport gesê sy kragkoste het met 72% gestyg.

Dr. Carel Stander, voorsitter van die Paarlse Afrikaanse Skakel Forum (PASF), het op sy beurt gesê dat hulle die grootmaatverbruikers ondersteun.

“Die grootmaat-kragverbruikers wat ook die grootste werkskeppers in die Drakenstein gebied is, word heelhartig gesteun in hul vertoë om kragtariewe, nie net vir hulle nie, maar ook vir die breër gemeenskap van belastingbetalers, afwaarts tot meer bekostigbare vlakke aan te pas,” het Stander gesê.

Volgens Wüst bestaan ’n dringende behoefte vir elektrisiteitsverbruikers en veral grootmaat-elektrisiteitsverbruikers om hul energieverbruik beter te bestuur, veral in die lig van die toenemende druk op die aanvraag na krag in Suid-Afrika.

“Een manier vir grootmaatverbruikers om die verhouding van aanvraag (kVA) tot energieverbruik (kWh) te verbeter, is om gebruik te maak van ’n tyd van gebruik-tarief (“time of use”). Hierdie tarief is gemik op verbruikers wat hul energie en aanvraag kan verskuif na minder kritieke tye en sodoende met die aanvraagprobleem kan help,” het Wüst gesê.

Hy sê die munisipaliteit het nie voorheen spesifieke tariewe vir grootmaatverbruikers gehad wat nié tyd van gebruik toepas nie.

“Dít het meegebring dat grootmaatkragverbruikers wat glad nie tot hierdie tyd van gebruik bydra nie, ook die voordele daarvan geniet het. Sommige grootmaatkragverbruikers het buite verhouding min vir krag betaal, wat beteken inwoners se kragrekeninge het hierdie koste in ’n mate gesubsidieer. Die munisipaliteit het geen keuse gehad as om hierdie situasie reg te stel nie.

“In 2020, te midde van ’n globale pandemie en inperkings, sowel as tydige en ontydige beurtkrag-toepassing deur Eskom, móét munisipaliteite en sakeondernemings kragverbruik eenvoudig beter begin bestuur – net soos ons geleer het om ons waterverbruikspatrone aan te pas en waterverbruik baie beter te bestuur.

“Dít is waarom die Drakenstein-munisipaliteit ’n bykomende tarief vir grootmaatkragverbruikers wat nie tyd van gebruik toepas nie, ingestel het. Ons wou ook meer regverdig wees teenoor alle grootmaatverbruikers en kragverbruikers in die Drakenstein.

“Ons ondervinding is dat baie van Drakenstein se sakeondernemings wel by hierdie nuwe tariefstelsel baat vind en nou elke maand kleiner kragrekeninge kry. Dít maak Draken­stein meer mededingend as ’n gebied om jou onderneming te bedryf.

“Wanneer jy byvoorbeeld Fabriek A (gebaseer op een van Drakenstein se grootste fabriekverbruikers) neem en met dieselfde verbruik die huidige tariewe van die metro en verskillende sekondêre stede in die Wes-Kaap vergelyk, sal Fabriek A in Drakenstein R1,36/kWh betaal, in George R1,49/kWh; in Stellenbosch R1,47/kWh en in Kaapstad R1,65/kWh,” het Wüst verduidelik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.