Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Toerismebedryf juig oor dié nuus

Die vonkelwynkurke het verlede Woensdagaand behoorlik geklap met pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging van verdere verslapping in die Covid-19- inperkingsregulasies.

Hoewel die land steeds op vlak 1 bly, keer drankverkooptye terug na normaal en landsgrense word breër oopgestel.

Hierdie is ’n reusestap vir die Drakenstein-gebied wat grootliks ekonomies afhanklik is van die drank- en toerismebedryf.

Die voorsitter van Drakenstein-toerisme, Annelize Stroebel, het hierna gesê dit is behoorlik ’n sonskyndag vir ons op alle vlakke.

“Dit het gevoel asof die toerismebedryf elke keer net ’n stukkie van die wortel gegee is om hulle tevrede te stel, maar Woensdagaand se aankondiging was regtig nie wat ons verwag het nie. En dit maak dit soveel meer fantasties,” het Stroebel gesê.

Sy het gesê met die skrap van die rooilys van sekere lande wat ongeloof­like verwarring veroorsaak het, is dit nou soveel makliker vir reisigers om te beplan, maar ook vir ons as toerismeprodukte om ons bemarkingsplanne nou volstoom te implementeer.

“Die reëls is eenvoudig en dieselfde vir almal. ’n Negatiewe Covid-19-toets 72 uur voor jy reis. Indien jy nie die toets laat doen het nie en wel in SA aankom, moet jy vir twee weke in afsondering op jou eie onkoste gaan.

“Ons is natuurlik ook verheug oor die verandering in die alkoholverkope wat nou oop is. Ons wynkelders, bierbroue­rye ens. kan nou ten volle oopmaak, wat beteken dat ons besoekers nou meer te doen het oor ’n naweek. Wyntoerisme is een van ons grootste aantrekkingskragte en die beperking op verkope het ’n verdere impak op ’n bedryf gehad wat alreeds soveel moes deurmaak hierdie jaar.”

Stroebel het bygesê die president het ook ’n beroep gedoen op mense om eerder in die buitelug bymekaar te kom en Drakenstein kan juis hieruit voordeel trek omdat daar soveel buitemuurse aktiwiteite, pieknieks ens. in die gebied is waar spesiale geleenthede aangebied kan word.

Maar, daar is nog steeds geweldige druk op die toerismebedryf, sê sy, en dit gaan ’n geruime tyd neem om te herstel.

“Maar ons is dankbaar dat die beperkings nou gelig is. Van ons grootste voermarkte is tans vasgevang in ’n tweede vlaag infeksies en bevind hulself weer eens in ’n grendeltyd, maar ons hou ontwikkelings fyn dop en kyk ook na ander markte, veral in Afrika.

“Ons het deur die grendelvlakke bemarking gedoen. Die strategie is deurgaans aangepas soos wat ons nou weer doen.

“Dit is baie uitdagend, maar dit voel nou asof ons vir die eerste keer meer rigting het en ons hoop dat dit so sal bly.

“Die publiek is Covid-voos, maar ons wil dit net weer eens uitlig dat ons besoekers hul samewerking moet gee met betrekking tot die veiligheidsmaatreëls, want ’n onderneming kan ’n boete ontvang indien hy nie aan die maatreëls voldoen nie.”

Stroebel het afgesluit deur almal te herinner dat hoewel die internasionale grense oop is, is dinge nog glad nie terug na normaal nie.

“Ons doen ’n beroep op ons gemeenskap om plaaslik te ondersteun. Ons is bevoorreg dat 50% van ons besoekers van die plaaslike mark is – dit help ons gemeenskappe baie.”

Suid-Afrika se alkoholbedryf het die aankondiging om die verhandeling en verspreiding van alkohol na normale gelisensieerde handelsure te hervat, verwelkom.

Kurt Moore, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Drankhandelaars (Salba), het gesê: “Die alkoholbedryf erken die uitdagings wat die regering in die gesig staar in sy pogings om die pandemie te stuit en die moontlikheid van ’n tweede golf van infeksies.

“Ons verwelkom die president se verklaarde doel om lewens te red en lewensbestaan ??te beskerm deur te fokus op die herstel en heropbou van die ekonomie. ”

Moore het gesê die bedryf werk oor die waardeketting om te verseker dat die sektor kan begin herbou en sy waardevolle bydrae tot die herlewing van die land se ekonomie kan lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.