Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Toringkerk-spesialis se dood hou klok steeds stil

Die Toringkerk in die Paarl moet die hand diep in die sak steek om die kerkklok finaal aan die lui te kry.

Die kerkklok is nou al byna vyf jaar lank gemuilband.

’n Herrie het losgebreek nadat die Drakenstein-munisipaliteit ná ’n ondersoek bevind het dat die gelui van die Toringkerkklok in die Paarl snags onaanvaarbaar is.

Dit was nadat ’n paartjie wat in Pastorielaan woon die kerkraad met ’n regsaksie gedreig het oor die kerk se “lawaai”. Dus het die “beleerde stadsvaders” die kerkraad aangesê om die kerkklok te muilband.

Hierna het die bestuur van die Toringkerk geskarrel om na alternatiewe te kyk om die historiese kerkklok weer te laat lui. Die hulp van die bekende klok- en horlosiespesialis Chris Snyman is toe ingeroep om met ’n alternatief vorendag te kom.

Nadat verskeie moontlikhede ondersoek is om die kerkklok-sage uit te sorteer, het Chris met sy kundigheid en ervaring ’n tydmeganisme aangebring om die klok slegs van 06:00 tot 22:00 te laat lui.

Inwoners van reg oor die dorp het gejubel toe die klok weer begin lui, maar die vreugde was van korte duur toe ’n tegniese fout weer toegeslaan het. Maar, voordat Chris weer aan die klok kon werk, is hy tragies aan ’n hartaanval oorlede.

Die bestuur van die Toringkerk moes toe van voor af iemand vind wat ervare genoeg is om aan die ingewikkelde meganisme van die kerkklok te werk.

Anré Koeglenberg, ’n woordvoerder van die Toringkerk, sê Snyman se dood word diep deur die gemeente betreur. Hy was deur die jare baie goedgesind teenoor die kerk en sy klok en hy wou baie graag hê dat die klok weer permanent moet lui.

Anré sê dat hulle ’n maatskappy in Kaapstad genader het wat deskundiges is in die herstel van klokke, om hulp met die Toringkerkklok te verleen.

Hierdie maatskappy het onlangs werk aan die bekende kloktoring van die V & A Waterfront in Kaapstad asook aan die geskiedkundige Kaapse stadsaalhorlosieklok gedoen.

“Hulle het reeds by ons besoek afgelê en die klok ondersoek. ’n Kwotasie van derduisende rande is ontvang vir die werk wat aan die klok gedoen moet word om dit binne die bepaalde ure te laat lui. Ons moet nou eers na ons geldsake kyk om hierdie bedrag in te samel voordat die werk kan voortgaan.

“Maar die klok sal beslis vanjaar nog lui,” voeg Anré by.

Die kerk beplan ook verskeie fondsinsamelingsprojekte om hiermee te help.

Enigiemand wat bydraes wil lewer kan die Toringkerk-kantoor by 021 872 6730 (weeksdae tussen 09:00-13:00) bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.